Leeu-advertensie nou hof toe

‘n Internasionale nie-regeringsorganisasie, Avaaz.org, het aangekondig dat hulle die Lughawensmaatskappy (Acsa) en Primedia hof toe gaan sleep nadat hulle plakkate teen leeujag uit die aankomssaal by OR Tambo Internasionale Lughawe verwyder het.

“Deur die plakkate te verwyder is soos sensuur en maak 700 000 mense se stemme stil wat graag Suid-Afrika se leeus wil red,” het Ricken Patel, uitvoerende direkteur van Avaaz gesê. “Ons is vol vertroue dat die hof die reg tot vryheid van uitdrukking gaan beskerm en verseker dat dié belangrike debat oor die toekoms van Suid-Afrika se leeus sal voortgaan.”

Die plakkate, wat pres. Jacob Zuma uitbeeld waar hy toekyk hoe ‘n leeuwyfie met ‘n handwapen doodgeskiet word, het in die lughawe se aankomssaal gehang. Die byskrif het gelui, “President Zuma kan haar lewe red”.

Acsa het in Augustus vanjaar vir Primedia, wat die plakkate namens Avaaz opgehang het, aangesê om dit af te haal.

Die plakkate was deel van ‘n veldtog teen geblikte leeus en om die gepaardgaande uitvoer van leeubeendere en -organe na die Ooste stop te sit.

Statistieke dui daarop dat die uitvoer van leeubeendere en -organe na die Ooste sedert 2009 met 250% toegeneem het, waarvan die meeste afkomstig is van geblikte leeus.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.