Leeus mors met Samoa op Ellispark

Marnitz Boshoff

Die rugbywêreld kan gerus regop sit en kennis neem van vandag se stryd tussen Samoa en die Leeus want die Johannesburgse span het laat weet hulle is niemand se duiksak nie.

Hulle het die eilanders oortuigend met 74-14 afgeransel en nie minder nie as tien drieë gedruk. Hul samespel as ’n span was voortreflik, hul verdediging ontoegeeflik en hul drieëlus onblusbaar.

Wat hierdie oorwinning selfs meer indrukwekkend maak is dat die Leeus steeds sonder baie van hul groot name moet klaarkom. Spelers soos Conrad Jantjies, Jaco Taute en Franco van der Merwe doen diens in die Super15 vir ander spanne en dit wil voorkom asof hulle wil aanbly by hul nuwe spanne in 2014.

Die Leeus het egter gewys hulle ’n eenheid is belangrik as indiwiduele briljantheid, maar selfs van laasgenoemde was daar ’n surplus van in vandag se sege.

Die Leeus-staatmaker Derick Minnie het reeds in die eerste helfte sy driekuns voltooi en Marnitz Boshoff het die telbord met sy skopskoen aan die gang gehou. Die agtsteman Ofisa Treviranus en vleuel Alesana Tuilagi het hul span se enigste twee drieë in die eerste helfte gedruk.

Daarna was dit neusie verby vir die Samoane en die Leeus het sewe pragdrieë gaan druk om hul teenstanders, wat geen punte in die tweede helfte kon aanteken nie, op Ellispark te verniel. Stokkies Hanekom het twee keer agter die pale gaan kuier terwyl Chrisjander Botha, die blitsige Anthony Volmink, Lionel Cronje, Ross Cronje en die veteraanvleuel Deon van Rensburg ook elk een gedruk het. Alles was langafstanddrieë wat die groterige skare laat brul het van plesier.

Al wat mens kan sê oor die Samoane is dat hulle hopelik vandag hul B-span laat speel het, want teen ordentlike internasionale opposisie kan sulke spelpeil gaan dit ’n verleentheid word.

Hul neiging om die ander span se spelers met robuuste verdediging te probeer initimideer, werk klaarblyklik nie. Hulle sal eerder moet fokus om die basiese aspekte onder die knie te kry as om slegs fisiek voor te kom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Bok Esterhuizen ·

Baie geluk aan die span, afrigters en bestuur van die Gauteng Lions ons as Lions ondersteuners is trots op julle. Hou dit daar manne en doen dieselfde met al die ander wedstryde wat voorle en doen vir ons iets heel spesiaal met die wedstryd teen die Kings sodat SARU nog n keer na lug moet hap soos n vis op droee grond.
Baie geluk weereens uit Tanzanie nou sien ek kans vir nog n maand hier in die buiteland.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.