Leeus sink WP in JHB

Marnitz Boshoff Foto: Allan James Lip /BackpagePix op www.sarugbymag.co.za

Die Leeus het vanaand weer gewys hulle is reg vir groter uitdagings toe hulle die Westelike Provinsie in ‘n vriendskaplike wedstryd met 42-12 ore aangesit het.

Die halftydtelling was 28-5 en daar was altesame agt drieë, twee deur die WP en ses deur die Leeus, gedruk. Die Leeus se Marnitz Boshoff en Lionel Cronje het met al die verdoelskoppe geslaag.

Die Leeus was met hul totale rugby van opportunisme, rotsvaste verdediging en onverbiddellike aanvalle heeltemal te goed vir ‘n WP-span wat duidelik nog leer om as ‘n span saam te speel. Dit was egter ook ‘n wedstryd van twee helftes met die Leeus wat hul kanse en gebiedsvoordeel in die eerste helfte ontgin het om drieë te druk, maar die WP wat vanweë swak besluitneming en ‘n onvermoë om af te rond nie dieselfde kon doen nie.

Die Leeus se Ruan Combrinck en Stokkies Hanekom het elkeen twee skitterdrieë in die eerste helfte gedruk. Hanekom het ‘n tikkie geluk met sy twee gehad toe die bal reg gehop het vir die eerste een ná ‘n skoppie oor die WP-verdedigers se koppe en die tweede een wat danksy ‘n wilde aangee op die WP se kwartlyn onderskep is.

Joshua Katzen het die WP se enigste punte van die eerste helfte aangeteken toe hy deur ‘n paar Leeus-verdedigers gebars het vir sy drie.

Die WP het die tweede helfte met ‘n hoë tempo afgeskop en hul verbete aanvalle het gelei tot Dillyn Leyds se drie. Tim Swiel het die WP se laaste punte van die wedstryd aangeteken toe hy die verdoelskop oorgeklits het.

Die WP het aanval op aanval geloods en op die Leeus se doellyn geboer, maar kon net nie die Leeus se verdediging deurpriem nie. Die Leeus-staatmaker Derick Minnie en die plaasvervanger Ben Crouse het die WP se doppie geklink met twee drieë laat in die wedstryd.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.