Leeus sneuwel, Oos-Kaap nou koning

Die huidige Curriebekerkampioen, die Goue Leeus se Super-weergawe, die Lions, is hul plek in aanstaande jaar se Super 15-reeks kwyt. Hul plekke word deur die Oos-Kaapse Kings ingeneem.

Die Kings, wat na die WP die meeste klubs het, is al in 2005 ‘n plek in die Superreeks beloof, wat telkemale dadels opgelewer het.

Die Oos-Kaap, wat as voedingsbron vir swart spelers beskou word, is al lank deur die regering gesteun om in die Superreeks te kan deelneem.

Met die onsekerheid nou uit die weg sal die Kings waarskynlik ‘n ooraanbod van gehaltespelers kry wat so aan die Superreeks wil deelneem.

Die Leeus het vanjaar in die Superreeks die houtlepel losgekarring en ‘n spelersopstand teen die afrigtingspan beleef. Tog het die span in hul eerste Curriebekerwedstryd van die nuwe seisoen die Cheetahs, wat op Ellispark met mamparraskoppe drieë pasella kom weggee het, goed afgeransel.

Die Leeus en hul ondersteuners het gehoop dat daar ‘n ander uitweg sou wees as om die Johannesburgers te pos.

Die Leeus kan na afloop van die 2013-toernooi in ʼn relegasie-promosiewedstryd sy plek herwin.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Rudie Thirion ·

Lekker geskryf.

“Die Leeus het vanjaar in die Superreeks die houtlepel losgekarring …”

“… die Cheetahs, wat op Ellispark met mamparraskoppe drieë pasella kom weggee het, goed afgeransel.”

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.