Johan Opperman (10) is Saterdag by die Zanchieta-wildekatplaas beseer toe ‘n leeuwyfie na hom gegryp het.
‘n Woordvoerder van Zanchieta het Maandag aan Maroela Media bevestig dit was net ‘n ongeluk. “Die seuntjie het te naby aan Elsa [die leeu] se hok gestaan,” het die woordvoerder, wat nie haar naam wou gee nie, gesê.
Elsa, die leeuwyfie, het bekendheid verwerf nadat sy twee nekoperasies in 2010 by die Wilgeheuwel-hospitaal in Johannesburg ondergaan het. Klik hier om meer te lees.
Elsa het Saterdag haar vyfde verjaarsdag gevier en daar was talle mense by die wildekatplaas om haar te sien. Miekie van Tonder, Elsa se eienaar, was glo in die leeukamp saam met Elsa toe die voorval gebeur het. Van die besoekers het Elsa deur die tralies gevryf. Johan het glo met sy rug teen die traliehek gestaan toe Elsa hom met haar poot gegryp en aan die arm beetgekry het.
“Dit was net ‘n ongeluk,” het die woordvoerder bygevoeg. “Dit bly maar ‘n wilde dier, maar ons besoekers se veiligheid kom nietemin eerste.”
Johan is na die Mediclinic Bloemfontein gehaas. Hy moet Dinsdag glo ‘n tweede operasie ondergaan om spierweefsel aan sy arm te heg. Amanda Appelgryn, woordvoerder vir die hospitaal, was nie dadelik beskikbaar vir kommentaar nie.
As jy met vuur speel…