Polisie in Noordwes vra inwoners in die Mahikeng-omgewing om paraat en op die uitkyk te wees vir ʼn wilde leeuwyfie wat in die gebied waargeneem is.
Volgens brigadier Thulani Ngubane, ʼn polisiewoordvoerder, het die leeu moontlik van die Kgale plaas in Botswana ontsnap en die grens oorgesteek.
“Sy is eers naby die Swartkopfontein-grenspos tussen Botswana en Mahikeng waargeneem. Publiek en polisiebeamptes het haar Woensdag vir die eerste keer aan Suid-Afrika se kant van die grens gesien,” het Ngubane gesê.
Wildbewaarders en die polisie werk sedert Donderdag saam om haar op te spoor waarna hulle gaan probeer om die leeu te verdoof en terug te neem Botswana toe.