Leier moet jammer sê oor ‘ʼn goeie boer is ʼn dooie boer’-uitlating

Jason Mfusi, SASCO-leier van die Noord-Wes Universiteit (NWU) moet om verskoning vra vir sy onlangse uitlating dat ʼn “goeie boer ʼn dooie boer” is.

AfriForum Jeug het Dinsdag in ‘n mediasieproses, soos deur die NWU se Menseregtekommissie (MRK) versoek is, met Mfusi ‘n ooreenkoms bereik. Ingevolge die skikking moet Mfusi ʼn skriftelike verskoning aan die boeregemeenskap rig.

Dit volg nadat AfriForum Jeug ʼn klag van haatspraak teen hom gelê het vir die uitspraak “My grandfather says ’n goeie boer is ‘n dooie boer” wat hy op 4 Februarie op Facebook gemaak het. Ná talle klagtes van studente het AfriForum Jeug Pukke op 5 Februarie die klag teen Mfusi gebring, waarna die MRK van die NWU aangedui het dat die saak ondersoek sal word. Die betrokke student is intussen ook uit die koshuis geskors hangende ʼn dissiplinêre verhoor.

“Die MRK het bevind dat die stelling wel haatspraak en rassisties van aard is, Mfusi het ‘n skriftelike verskoning geteken waarin hy erken dat bepaalde gemeenskappe aanstoot kan neem oor sy uitlatings. Hy het ook om verskoning gevra,” het Marcus Pawson, woordvoerder van AfriForum Jeug Pukke, gesê.

Mfusi het skriftelik skuld erken en aangedui dat:

  • hy erken en bevestig dat sy uitlatings die boeregemeenskap te na gekom het;
  • hy sy uitlatings diep betreur en terugtrek;
  • hy ander Suid-Afrikaners sal aanmoedig om nie soortgelyke uitlatings te maak nie;
  • hy geen reg gehad het om pyn vir ‘n ander gemeenskap te veroorsaak nie;
  • hy as leier van SASCO, ‘n student van die NWU en as ‘n Suid-Afrikaner ‘n rol in Suid-Afrika wil speel wat nie afbrekend is nie.

Mfusi se uitlating is ook intussen van Facebook verwyder.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.