“Leier” van renosterstroperysindikaat vas

Een van die mees gesoekte mans in die onderwêreld van renosterstropery is in Hazyview in Mpumalanga in hegtenis geneem nadat vier renosterhorings in sy besit gevind is en daar later op meer as R5 miljoen beslag gelê is.

ʼn Polisiewoordvoerder, kol. Jay Naicker, sê die man is Vrydagmiddag deur die Valke by die Blue Haze-winkelsentrum in hegtenis geneem. Daar is vier renosterhorings en R60 000 in sy besit gevind. Beeld het die man geïdentifiseer as Joseph (Big Joe) Nyalunga (48), ʼn oud-polisieman. Die horings is glo dié van die twee renosters wat verlede week naby Pretoriuskop in die Krugerwildtuin gestroop is. Vier SANParke-beamptes is dieselfde dag in hegtenis geneem. Naicker sê die polisie het later vasgestel dat die man verbind word aan vier eiendomme in die provinsie. Die polisie het tydens klopjagte op die eiendomme, beslag gelê op meer as R5 miljoen, TV-stelle, elektroniese goedere, vuurwapens en 54 jagmesse. Volgens Beeld is daar ook beslag gelê op sowat 70 pangas en byle wat glo gebruik word om renosterhorings mee te stroop. Volgens Beeld word Nyalunga aan verskeie ander misdade verbind. Hy is glo in Desember in hegtenis geneem nadat R3,2 miljoen en ʼn sak met bloed en weefsel in sy besit gevind is. Hy is op borg vrygelaat. Hy is glo ook vroeër van moord aangekla. Die man sal na verwagting Maandag in die Middelburg landdroshof verskyn.

Lees meer hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

lome4 ·

..wens hulle kon hom noual reeds in die tronk bykom..met n renosterhoring! Maar as hy geld het, is hy so goed soos n vry-man :-(

Paul ·

Die probleem is dieselfde as met die sogenaamde “War on Drugs”. Elke keer as een groot haai in hegtenis geneem word, juig al die ander klein vissies en een van hulle word dan die volgende haai.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.