Leksikograaf wen Jan H Marais-prys

Prof. Rufus Gouws (Foto: SA Akademie vir Wetenskap en Kuns/Facebook)

Prof. Rufus Gouws, ʼn wêreldbekende leksikograaf van Stellenbosch, ontvang vanjaar die Jan H Marais-prys vir ʼn uitstaande bydrae tot Afrikaans as wetenskapstaal.

Die prysgeld van R750 000 word toegeken as erkenning vir sy bydrae ten bate van akademiese Afrikaans. Dit sal later vanjaar by ʼn geleentheid op Stellenbosch aan hom oorhandig word.

Gouws is Donderdag as die wenner aangewys deur die voorsitter van die keurkomitee, dr. Johan van Zyl, oudrektor van die Universiteit van Pretoria en ook oudbestuurshoof en -voorsitter van Sanlam.

Prof. Gouws, een van Suid-Afrika se toonaangewende leksikograwe, is in 1953 gebore. Hy studeer aan die Universiteit Stellenbosch (US) en behaal agtereenvolgens die grade BA (1974), BAHons (cum laude, 1975), MA (cum laude, 1977) en DLitt (1982) in Afrikaans en Nederlands.

Sy loopbaan as akademikus begin in 1977 by die Departement Afrikaans en Nederlands aan die Universiteit van Suid-Afrika (Unisa). In Januarie 1980 verskuif hy na die Departement Afrikaans en Nederlands aan die Universiteit Stellenbosch waar hy in 1999 tot professor bevorder word.

Gouws se produktiewe onderrig- en navorsingsloopbaan in die Afrikaanse taalkunde, en meer spesifiek die leksikografie aan nagraadse studente, strek dus oor 45 jaar. Hy is ook gereeld gasprofessor by verskeie buitelandse universiteite en danksy sy onderrig- en navorsingswerk in die leksikografie is Stellenbosch die enigste universiteit buite Europa wat ʼn volle konsortiumlid is van EMLex, die European Master in Lexicography.

Hy slaag daarin om leksikografie suksesvol as ʼn kernnavorsingskomponent in die Departement Afrikaans en Nederlands aan die Universiteit Stellenbosch te vestig. Oor die jare het hy 36 studente op magistervlak en 24 studente op doktorale vlak tot die voltooiing van hulle kwalifikasies begelei. Sy eie navorsing is feitlik uitsluitlik op die metaleksikografie gerig.

Gouws se publikasielys is omvangryk en staan tans op 123 artikels in ewekniegeëvalueerde vaktydskrifte, 76 hoofstukke in boeke, en 20 boeke as alleenouteur of as mede-outeur. Hy het ook reeds meer as 100 referate, internasionaal én plaaslik, gelewer. Gouws is ook redaksielid van toonaangewende publikasies in die leksikografie en aktief betrokke by akademiese vakverenigings.

Vir sy navorsingswerk is prof. Gouws deur die Nasionale Navorsingstigting as ʼn B2-navorser gegradeer, dus as ʼn navorser wat aansienlike internasionale erkenning deur hul eweknieë geniet vir die hoë gehalte en invloed van hul navorsingsuitsette. Dit bevestig sy status as toonaangewende navorser in leksikografie in Suid-Afrika.

Die jaarlikse Jan H Marais-prys is in 2015 ingestel deur ʼn besluit van Het Jan Marais Nationale Fonds, Naspers en die Universiteit Stellenbosch. Al drie instellings het hulle ontstaan te danke aan die versiende steun van Johannes Henoch Marais (1860-1915) van Stellenbosch, wat saam met sy broers in die 1870’s hulle fortuin op die Kimberleyse Diamantveld gemaak het. Jannie Marais was ʼn groot ondersteuner van Afrikaans as akademiese en literêre taal.

Die Jan H Marais-prys vir ʼn lewensbydrae tot akademiese Afrikaans word geadministreer deur die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns. Die keurkomitee van vooraanstaande akademici uit verskillende dissiplines het vanjaar bestaan uit proff. Albert Grundlingh (Stellenbosch), Debra Meyer (Johannesburg), Ena Jansen (Amsterdam en Johannesburg), Ian Dubery (Johannesburg) en dr. Johan van Zyl (vroeër van Pretoria en ook Sanlam).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Treurwilger ·

Net jammer die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns het skynbaar skoon vergeet dat Jan H Marais se skenkingsvoorwaarde bepaal dat Afrikaans as volwaardige onderrigtaal aan US gevestig en onderhou moet word.

Hector ·

Treurwilger, wat jy skryf is vol in die kol! Hoe kan Afrikaans mos sy akademiese status handhaaf as dit deur die US geboikot bly? Hector, minnaar van Afrikaans in VLAANDERE.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.