Lenasia-slopings: Ooreenkoms bereik

Die departement van behuising sloop huise by Lenasia

Geen verdere huise in Lenasia wat onwettig gebou is sal gesloop word nie, is vandag in die Johannesburgse hooggeregshof ooreengekom.

Die departement van behuising in Gauteng en die SA Menseregtekommissie (SAHRC) het ooreengekom om buite die hof te skik. Regter Phineas Mojapelo het die partye onbepaalde uitstel gegee om ʼn “vreedsame ooreenkoms” te bereik oor wat met die huise op die grond, wat vir regeringsbehuising geoormerk is, moet gebeur. Hy is verseker dat geen slopings intussen sal plaasvind nie.

Die departement en die SAHRC het nog nie aangedui wanneer samesprekings sal plaasvind nie. Mojapelo sê ʼn datum sal in die hof bepaal word indien ʼn ooreenkoms nie binnekort bereik word nie.

Die SAHRC het aan die begin van die maand die hof genader vir ʼn interdik nadat die departement huise begin sloop het. Die erwe is glo onwettig vir tussen R2 500 en R95 000 verkoop. Die kopers het ʼn vervalsde akte ontvang met die departement se wapen daarop.

Julius Malema, geskorste ANC-jeugligaleier, het die inwoners van Lenasia buite die hof toegespreek. Hy het op ʼn voertuig geklim en oor ʼn luidspreker gepraat. Malema sê dit is die regering se skuld dat huise gesloop is. In dieselfde asem het hy die ANC van enige verantwoordelikheid kwytgeskel. Hy het aan die inwoners gesê hy sal seker maak dat die hofbevel uitgevoer word en dat korrupte behuisingsbeamptes aanspreeklik gehou sal word. Die skare, wat lede van die National Freedom Party en ANC-verteenwoordigers ingesluit het, het met luide “amens” hierop reageer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.