ʼn Vermeende moordenaar wat glo drie mense in Lesotho vermoor het, is Maandag in Suid-Afrika opgespoor.
Brig. Thulani Ngubane, ʼn polisiewoordvoerder van Noordwes, sê die voortvlugtende het in Taung weggekruip. “Die Taung-polisie het inligting ontvang dat die man moontlik in die omgewing kan wees. Die man het vermoedelik drie mense in Lesotho doodgemaak. Een van sy slagoffers was ʼn Amerikaner,” het Ngubane gesê.
Die man is vasgetrek in ʼn gesamentlike poging met die polisie, polisiebeamptes van Lesotho en die Amerikaanse ambassade. Hy het geen wettige reisdokumente gehad wat hom in die land toegelaat het nie.
Die man het Woensdag in die Taung-landdroshof verskyn, en die saak is tot 20 Maart uitgestel vir verdere ondersoek.