Lewenslank ná moord op ouers

Lester Abrahams (24) is twee keer lewenslank gevonnis nadat hy sy ouers in Junie 2008 vermoor het.

Abrahams is in die Tokoza hooggeregshof gevonnis. Hy het op 28 Junie 2008 ʼn argument met sy pa gehad en hom toe met sy eie vuurwapen, ʼn 9mm-pistool, doodgeskiet, berig Beeld. Hy het sy ma toe met ʼn metaalpyp doodgeslaan. Twee kinders, sy jonger boetie en ʼn niggie, het die voorval aanskou. Abrahams het hulle vir ʼn hele aantal jaar met erge gevolge gedreig as hulle enigiemand ooit oor die moorde sou inlig.

Adv. Deon van Wyk, staatsaanklaer, het gesê die getraumatiseerde kinders sal vir die res van hul lewens dié letsels oorhou.

Dr. Gerard Labuschagne, hoof van die polisie se ondersoekgerigte sielkunde-eenheid, het Vrydag getuig dat Abraham psigopatiese neigings toon. “Ek is huiwerig om hom ʼn psigopaat te noem, maar hy was ʼn dwelmverslaafde. Nietemin is daar aanduidings dat hy psigopatiese neigings gehad het nog voor sy dwelmgebruik. Die beskuldigde is sjarmant, het ʼn groot ego, toon geen berou nie, volg ʼn parasitiese leefstyl en is ʼn patologiese leuenaar,” het Labuschagne gesê.

Regter George Maluleke het bevind die motief was gierigheid, aangesien Abrahams R3.7 miljoen by sy ouers geërf het en wat hy, in minder as vier jaar, spandeer het.

-SAPA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.