Lewenslank vir “gevaarlike barbaar”

‘n Man van KwaMhlanga is Donderdag lewenslange tronkstraf opgelê nadat hy ‘n ma en haar twee kinders van Pretoria-Noord vermoor het.

Sipho Masiga (36) is in die Pretoriase hooggeregshof lewenslange tronkstraf opgelê op drie aanklagte van moord en 28 jaar tronkstraf op aanklagte van roof met verswarende omstandighede, ontvoering en onsedelike aanranding. Regter Bert Bam het Masiga as ‘n “gevaarlike en barbaarse krimineel wat uit die samelewing verwyder moet word” beskryf.

Masiga het in Julie 2010 die agt maandeoue Avheani en die vierjarige Adivhaho verwurg en versmoor voordat hy hul ma, Thifhelimbilu Mashau van haar motor beroof, en haar gedwing het om hom na Ga-Rankuwa te vergesel. Hy het Mashau toe verwurg en met ‘n skerp voorwerp gesteek voordat hy haar halfnaakte liggaam in die veld gelaat het.

Masiga se vriend, Raymond Matshaba (30) is 15 jaar tronkstraf opgelê, aangesien hy ná die moorde en roof homself medepligtig gemaak het. Hy het erken dat hy Mashau se motor gestroop en toe aan die brand gesteek het om enige vingerafdrukke te vernietig, voordat hy besef het sy en haar kinders is vermoor. Hy het homself vyf dae later aan die polisie oorhandig.

Bam sê Masiga en Mashau moes mekaar voor die voorval gekontak het, maar Masiga is die enigste een wat aan die hof kan sê wat gebeur het, en hy het geweier om die waarheid te praat. Masiga het verskeie weergawes gegee wat gebeur het, insluitend een waar Mashau hom glo versoek het om ‘n vuurwapen aan haar te oorhandig sodat sy selfmoord kan pleeg, en dat sy hom toe glo versoek het om haar te vermoor nadat hy nie ‘n vuurwapen aan haar kon oorhandig nie. Hy het voorgestel dat sy moontlik self haar kinders vermoor het.

In die hof het hy aangevoer dat sy hom versoek het om ‘n roof by haar huis te reël, en dat hy niks met die moorde te doen gehad het nie. Bam het gesê Mashau se moord was barbaars. “Die moord op die twee kinders was wreed en barbaars. Beide is verwurg en versmoor,” het Bam gesê. “Dit bly ‘n raaisel waarom hulle vermoor is. Dit is so sinneloos om klein kindertjies te vermoor. Hulle kon nie enige bedreiging vir die moordenaar ingehou het nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.