Lewenslank vir PTA-moord

Twee mans wat Dave Bye in 2010 buite sy huis doodgeskiet het, is Vrydag tot lewenslange tronkstraf gevonnis.

Simon Mabena (29) en Lesiba Kgaledi Mabitsela (28) is gevonnis vir die moord op die 57-jarige sakeman. Bye, ‘n voormalige elektroniese vliegtuigdeskundige wat twee slaghuise in Ga-Rankuwa bedryf het, is tydens ‘n bakleiery met hulle doodgeskiet. Hulle het buite sy huis vir hom gewag. Hulle het gevlug toe een van die bure in Bye se sekuriteitskompleks, waar hy gebly het, ‘n alarm aktiveer het.

Mabena, wat glo siek is, het sy misnoeë uitgespreek oor die behandeling wat hy in die gevangenis ontvang het, maar regter Bert Bam sê dit is nie ‘n voldoende rede om van die voorgestelde lewenslange vonnis af te wyk nie. Hy sê beide mans het hul onskuld volgehou en geen berou getoon nie.

Bye se vrou, kinders en kleinkinders is deur sy afsterwe getraumatiseer en moet nog sielkundige berading ontvang. Sy twee slaghuise in Ga-Rankuwa moes sluit en al sy personeel was hul werk kwyt.

Bam sê Mabena en Mabitsela was ongetwyfeld van plan om iemand te beroof en het hulself “geprogrammeer om te moor”. Hulle het Bye geen genade getoon nie en het hom genadeloos vermoor. Bam het gesê die samelewing is uitgelewer aan die hande van kriminele wat ander lukraak vermoor en geen respek vir lewe het nie. Hy het bygevoeg die twee is gevaarlike misdadigers wat permanent uit die samelewing gehaal moet word.

Bye se vrou, Adreen, sê sy voel tevrede dat geregtigheid geskied het, maar glo dat haar man se moordenaars hul ware straf van God sal kry. Sy het gesê haar man het in hul jongste seun se arms gesterf nadat hy haar by die kantoor gebel het om te sê dat hy geskiet is. Sy het sedertdien na ‘n kompleks verhuis wat beter sekuriteit bied.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.