ʼn Liggaam wat glo die van ʼn onwettige myner is, is Donderdag by ʼn ou mynskag in Roodepoort, Johannesburg, gevind.
Robert Mulaudzi, ʼn woordvoerder van die Johannesburgse nooddienste, het gesê die man, in sy 40s, is omstreeks 13:00 deur ʼn voetganger gekry. Die liggaam was naby die ingang van ʼn ou mynskag in die Durban Deep-goudmyn.
“Die man se liggaam is in ʼn sak gekry. Hy het verskeie beserings en gebreekte bene gehad. Ons vermoed hy is in die skag dood en deur ander onwettige werkers by die ingang gelos.”
Intussen het die polisie in Welkom in die Vrystaat vier mans in hegtenis geneem wat ‘n onwettige goud raffinadery bedryf het. Thabo Litabe , ʼn polisiewoordvoerder, het gesê die vier mans, tussen die ouderdomme van 30 en 60 jaar oud, is deur die Valke vasgetrek. Hulle word aangekla van die besit van onverwerkte edelmetale sonder ‘n permit.