Die liggaam van ʼn bejaarde vrou is in haar huis naby Queenstown in die Oos-Kaap gevind.
Ao. Namhla Mdleleni, ʼn polisiewoordvoerder, het gesê die polisie vermoed die 73-jarige vrou is verwurg, want daar was verskeie kneusplekke op haar liggaam. Sy is Maandag deur haar bure gevind nadat hulle nie met haar in verbinding kon tree nie.
Die polisie ondersoek ʼn saak van moord. Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie. Die vrou se naam is nog nie bekend gemaak nie.