Liggaam van ekspedisielid op pad terug na SA

Gough-eiland Foto: Panoramio.com

Gough-eiland Foto: Panoramio.com

Die liggaam van Johannes Adriaan Hoffman, ʼn lid van die departement van omgewingsake se oorwinterspan wat onlangs tydens sy tweede ekspedisie na Gough-eiland in die Suid-Atlantiese Oseaan gesterf het, is op pad terug na Kaapstad.

Hoffman het, met meer as 15 jaar ervaring, as ʼn elektroniese tegnikus aan die ontwikkeling en instandhouding van elektroniese en kommunikasiestelsels gewerk. Hy het al soortgelyke ekspedisies vir die departement in sy Suid-Afrikaanse Nasionale Antarktiese Program na Marioneiland en Antarktika-basis onderneem.

Die SA Agulhas, wat op 21 Februarie Kaapstad verlaat het om na die eilande te vaar, het verlede Donderdag daar aangekom. “ʼn Kapelaan, wat ook ʼn gekwalifiseerde traumaberader is, en ʼn ingenieur wat Hoffman gaan vervang was aan boord,” het Zolile Nqayi, woordvoerder van die departement van omgewingsake, Maandag aan Maroela Media gesê.

“Ná ʼn kort seremonie is Hoffman se liggaam met die nodige sorg op die vaartuig gelaai. Die kapelaan het beradingsessies aan die ander bemanningslede verskaf. Die vaartuig het Vrydag die eiland verlaat en sal na verwagting vandeesweek in Kaapstad aanland, afhangend van die weersomstandighede,” het Nqayi gesê.

Die oorsaak van Hoffman se dood is nog nie bevestig nie. ʼn Nadoodse ondersoek sal in Suid-Afrika gedoen word. Daar word vermoed dat hy versmoor het nadat hy aan kos verstik het. Hy is dood op sy bed aangetref.

Lees ook:
SA-man sterf tydens ekspedisie

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.