Limpopo-betogers eis toegangsfooi ná chaos by informele nedersettings uitbreek

Argieffoto

Argieffoto

Betogers het Vrydag paaie rondom die Relela en Kubjana informele nedersettings in Limpopo versper, en eis toegangsfooie vir enigiemand wat daar wil in gaan.

ʼn SAPA-korrespondent in die omgewing het ten minste op vier “betaalstasies” afgekom wat deur betogers bedryf word.

Paaie in die twee gebiede buite Tzaneen word versper deur brandende bande en verkeerstekens wat gevandaliseer is.

Die betogers wat die betaalpunte beman, voer aan hulle samel geld in vir die families van vier mense wat oor die afgelope week daar gesterf het.

Die betaalpunte word deur groepe van vyf tot 10 mans beman. Hulle eis R5 toegangsfooi van voertuie en R10 van volgelaaide bakkies en dit gebeur glo terwyl die polisie toekyk.

Die meeste mense betaal die toegangsfooi, die wat dit nie doen nie word gedwing om om te draai.

Die polisie het Vrydagoggend in ʼn stadium op die betogers gemik om hulle met rubberkoeëls uit mekaar te dryf, maar die betogers het op die beamptes geskree, waarna die polisiebeamptes teruggetrek het, het ʼn SAPA-korrespondent berig.

Werkers wat in die gebied woon, moes ver afstande loop om toegang tot vervoer te kry, aangesien taxi-operateurs weier om deur die gebied te ry.

Brig. Hangwani Mulaudzi, ʼn polisiewoordvoerder, het bevestig dat die paaie versper is. Hy sê hoofsaaklik polisie-njalas ry in die gebied rond. “ʼn Mens kan omtrent nie in die gebiede beweeg nie, selfs die taxi’s ry nie meer daar rond nie,” het Mulaudzi gesê.

Hy het inwoners gewaarsku om ten alle tye waaksaam te wees.

“Ons werk al om die uur om te sorg dat die gebiede normaal funksioneer. Al hoe meer polisiebeamptes word ook hier ontplooi.” Hy het gesê hulle hou die situasie fyn dop en dat polisiebeamptes van Mpumalanga hulle bystaan.

Hy het Vrydagoggend gesê die situasie is redelik kalm, maar dat die betogers se gemoedere gewoonlik in die middag opvlam.

Inwoners het Donderdag die eiendom van ʼn plaaslike sakeman aan die brand gesteek, nadat die liggaam van ʼn driejarige kind is sy motor gevind is. Twee kinders, wat saam met die kind in die motor was, is ongedeerd.

Mulaudzi het gesê verskeie mense is Donderdag in hegtenis geneem, maar kan nie bevestig hoeveel nie.

Die gemeenskap betoog sedert verlede Vrydag nadat die liggaam van ʼn skoolmeisie, Khomotso Raolane (15), in die omgewing gevind is. Daar is aanvanklik berig dat Raolane ‘n 20-jarige vrou was. Raolane is wreed vermoor en haar hande is afgesny. Sy is Vrydag dood aangetref met haar selfoon en sleutels in haar oopgesnyde maag. Die polisie het toe gesê hulle kan nie die moontlikheid uitsluit dat dit ʼn ritueelmoord was nie. Die gemeenskap is ontstoke omdat hulle voel die polisie doen nie hulle werk behoorlik nie en hulle kon ook nie die slagoffer se vermiste liggaamsdele opspoor nie.

Lees ook:
Kleuter se liggaam in motor gevind
“Hy wou net Malema ontmoet”
Polisie skiet glo 2 wat betoog oor vrou se gru-dood
Sesde polisie-skietdood vir jaar ná vrou se wrede moord

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

nag nella ·

Belasting punte vir die volhoubare inkomste om n rebelle beweeging van die grond af te kry. Dit behoort baie bekommernis wekkend te wees. Vir almal.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.