Limpopo-eksamens uitgestel weens geldtekort

Daar is chaos by skole in Limpopo nadat die halfjaareksamen glo uitgestel is weens ʼn tekort aan fondse.

Verskeie van die provinsie se skole is in so ʼn finansiële verknorsing dat hulle nie kan bekostig om eksamenvraestelle te druk nie, het Beeld Donderdag berig.

Die probleem word grootliks toegeskryf aan die feit dat die skole nie hul halfjaarlikse subsidies gekry het wat teen 15 Mei inbetaal moes wees nie.

Skoolhoofde is Maandag per SMS in kennis gestel dat die eksamens uitgestel is tot verdere kennisgewing.

Annette Lovemore, die DA se woordvoerder oor onderwys, het gesê Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, en haar departement het die provinsie se leerlinge vir die soveelste keer in die steek gelaat.

Die nasionale departement het vroeër die administrasie van die provinsie oorgeneem. “Die provinsiale onderwysdepartement het sedert verlede maand steeds ’n begrotingstekort van R1,4 miljard gehad,” het Lovemore gesê.

Skole is aangesê dat hulle Vrydag nuwe eksamenroosters gaan kry waarby leerlinge moet inval.

Hoewel slegs leerlinge van graad 10 tot 12 geskeduleer is om die gesamentlike eksamen te skryf, word alle ander grade in primêre en sekondêre skole ook geraak, omdat hulle ook veronderstel is om eksamen te skryf.

Panyaza Lesufi, nasionale onderwyswoordvoerder, het gesê die probleem is buite die departement se beheer, want die nasionale tesourie het van een betalingstelsel na ’n ander oorgeskakel. Hulle het ook van banke verander wat die vertraging in betalings aan skole veroorsaak het.

“Dit is nie waar dat ons nie geld het nie. Ons doen tans die oorbetalings een vir een,” het hy gesê.

– Sapa

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Ella-marie ·

Dan wil hulle he ons moet ons kinders op skool hou en skoolfons betaal vir wat? Dis beter om jou kinders te leer om hul hande te werk en iets te bereik in die lewe!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.