Limpopo-handboeke: Minister moet bedank

Die burgerregte-organisasie AfriForum het Maandag ʼn beroep op Angie Motshekga, die minister van basiese onderwys, gedoen om te bedank en so aanspreeklikheid vir die huidige skoolhandboekchaos te aanvaar.

Dit volg na sekere skole in Limpopo ná ses maande steeds nie handboeke ontvang het nie, terwyl derduisende handboeke skynbaar in ʼn pakhuis staan en ander vernietig word.

Maroela Media het Sondag berig dat die DA Vrydag op ʼn terrein in Polokwane, Limpopo, afgekom het waar handboeke en skryfbehoeftes gestort en vernietig is.

“As die minister nou bedank, sal dit die baie nodige boodskap aan die land gee dat die regering ernstig oor onderwys is en dat amptenare, van die laagste tot die hoogste vlak, aanspreeklikheid vir foute sal aanvaar,” het Alana Bailey, adjunk-uitvoerende hoof van AfriForum gesê.

“Om verskoning te vra, is eenvoudig nie langer goed genoeg nie. Meer as 80% van die skole in Suid-Afrika is disfunksioneel, volgens die VN is 89% van die land se volwassenes ongeletterd en armoede asook werkloosheid neem krisisafmetings aan. As die minister nie eens kan onderneem dat dieselfde probleme met handboekvoorsiening nie weer in 2013 gaan opduik nie, is haar verskonings ʼn mors van tyd.”

Die afgelope maand is ʼn klag onder meer deur AfriForum ontvang van skole in gebiede wat deur armoede geteister word, maar skitterende slaagsyfers handhaaf, dat die Gautengse onderwysdepartement nie handboeke aan hulle wil voorsien nie “omdat die leerlinge te goed vaar”.

Intussen het die DA Maandag by dié terrein beslag gelê op verskeie handboeke wat hulle kon ‘red’ en wat in ʼn goeie kondisie was. Die DA sê in ‘n verklaring dat van dié boeke, onder meer wiskunde-, wetenskap-, poësie en Afrikataal-verhaal-handboeke, nog in ‘n goeie toestand is. Die DA het gesê hulle beplan om van die boeke aan skole in Limpopo te skenk, wat dit die nodigste het.

Die minister van basiese onderwys, Angie Motshekga, het in antwoord op ‘n navraag gesê hulle is nie bewus daarvan dat boeke vernietig word nie en wag op antwoorde van die Limpopo onderwysdepartement.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Bouwe Van Der Eems ·

Dit gaan nie help om te vra dat die minister moet bedank nie. Die minister gaan net vervang word deur nog ‘n politikus vir wie onderwys ‘n politiek spel is. Ouers moet hulle kinders onttrek uit staatskole en kies vir privaatskole of tuisonderwys. Ouers wat belangstel in tuisonderwys kan gerus die webwerf van die Vereniging vir Tuisonderwys besoek vir meer inligting.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.