Limpopo-premier bedank

Cassel Mathale Foto: Mpho Dube

Cassel Mathale, premier van Limpopo, het Maandag in ʼn verklaring bevestig hy het bedank.

“Ek het as premier van die Limpopo provinsiale regering en as lid van die provinsiale wetgewer bedank,” het Mathale gesê. “Ek het my brief aan die speaker, Rudolph Phala, oorhandig.” Mathale sê dit is kragtens die besluit van die ANC om hom as premier van die Limpopo-provinsie af te dank.

City Press het Sondag berig dat Mathale ʼn oorsese reis kortgeknip het om die nuus aan te hoor en om met Gwede Mantashe, sekretaris-generaal van die ANC, te vergader.

Desiree van der Walt, DA-leier van die wetgewer in Limpopo, het gesê die party het probeer om ʼn mosie van wantroue teen Mathale in te dien, maar was sedertdien nog nie suksesvol nie. Die mosie van wantroue hou verband met bewerings dat Mathale glo belastingbetalers se geld gebruik het vir helikopter-vlugte in plaas daarvan om met staatsvoertuie te reis. Die DA het gevoel dié geld kon eerder aangewend word vir handboeke of watervoorsiening en behoorlike sanitasiegeriewe in die provinsie.

Mathale is op 6 Mei 2009 as premier van die provinsie aangewys.

Vyf provinsiale regerings is in Desember 2011 onder administrasie geplaas weens korrupsie en erge oortreding van die Wet op die bestuur van openbare finansies.

Mathale is in April as provinsiale voorsitter van die ANC afgedank toe die nasionale uitvoerende komitee besluit het om die provinsiale uitvoerende komitee te ontbind. Dit is deur ʼn provinsiale taakspan vervang.

Lees ook:
Limpopo-premier spandeer glo duisende op heli-ritte

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.