Limpopo se beste en swakste munisipaliteite aangewys

Limpopo

Limpopo

Die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI) het vandag met die bekendstelling van sy Leefbaarheidsmonitor vir Limpopo die provinsie se beste en swakste munisipaliteite aangewys. Limpopo is ’n provinsie wat dikwels weens swak administrasie en bestuur in die nuus is. Munisipaliteite in Limpopo het in vergelyking met dié in Gauteng baie swakker gevaar. Munisipaliteite wat onder die Waterberg Distriksmunisipaliteit val is Limpopo se bes presterende munisipaliteite terwyl die munisipaliteite in die Sekhukhune Distriksmunisipaliteit die provinsie se swakste munisipaliteite is

Eugene Brink, senior navorser aan die SNI, sê Limpopo bestaan uit vyf distriksmunisipaliteite wat verder onderverdeel is in 25 plaaslike munisipaliteite. Brink sê die Thabazimbi Plaaslike Munisipaliteit, deel van die Waterberg Distriksmunisipaliteit, het die beste leefbaarheidtelling, naamlik 5,5 uit 10, ontvang, terwyl die Elias Motsoaledi, Ephraim Mogale en Makhuduthamaga Plaaslike Munisipaliteite die swakste leefbaarheidtellings, naamlik 1 uit 10, ontvang het.

Brink sê die munisipaliteite van Bela-Bela, Lephalale, Modimolle, Mogalakwena, Mookgopong en Thabazimbi, almal deel van die Waterberg Distriksmunisipaliteit, het gemiddeld ʼn punt van tussen 4 en 5,5 uit 10 ontvang vir leefbaarheid. “Munisipaliteite in die Waterberg Distriksmunisipaliteit het oor die algemeen beter as munisipaliteite in die ander distriksmunisipaliteite gevaar danksy ʼn groot aantal huishoudings wat toegang tot lopende water het, die misdaadkoers wat relatief laag is in vergelyking met ander munisipaliteite in die provinsie en ʼn lae werkloosheidsyfer. Daar is wel talle vakante poste in dié munisipaliteite.”

Brink sê die munisipaliteite van Elias Motsoaledi, Ephraim Mogale, Fetakgomo, Groter Tubatse en Makhuduthamaga, almal deel van die Sekhukhune Distriksmunisipaliteit, het gemiddeld ʼn punt van tussen 1 en 2 uit 10 vir leefbaarheid ontvang. “Munisipaliteite in die Sekhukhune Distriksmunisipaliteit het oor die algemeen swakker as ander munisipaliteite gevaar weens die hoë werkloosheidskoers. Al vyf dié munisipaliteite se werkloosheidskoers is hoër as 40%. Watervoorsiening en vullisverwydering is in meeste van die munisipaliteite uiters gebrekkig en daar is ook talle vakante poste. Die misdaadsyfer in van die munisipaliteite is baie hoog.”

Die onderskeie munisipaliteite se leefbaarheidtellings:

limpop lys

Volgens Brink is die doel van die monitor om die leefbaarheid van die provinsie op munisipale vlak te meet. Leefbaarheid word aan die hand van ʼn stel sleutelaanwysers, met subaanwysers wat daaronder ressorteer, ontleed. Die monitor vorm deel van Solidariteit se verbintenis om belastingbetalers van die nodige inligting oor hoe hul belastinggeld aangewend word, te voorsien. Die vakbond speel veral deur navorsing ʼn waghondrol om die besteding van die werkers se belastinggeld te monitor.

Kliek hier om die Leefbaarheidsmonitor vir Limpopo af te laai.

Kliek hier om die Leefbaarheidsmonitor vir Gauteng, wat vroeër vanjaar bekendgestel is, af te laai.

* Die Leefbaarheidsmonitor is ʼn nuttige, kompakte gids oor leefbaarheid in Suid-Afrikaanse munisipaliteite en metropolitaanse gebiede. Die Leefbaarheidsmonitor is gegrond op beskikbare inligting en is derhalwe nie allesomvattend nie; dit is ʼn momentopname en nie ʼn analise oor tyd nie. Soos wat verdere inligting beskikbaar word of in die toekoms ingesluit kan word, sal die leefbaarheidtellings vir munisipaliteite en metropolitaanse gebiede uiteraard aangepas en met vorige jare vergelyk kan word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Eben ·

Dis nie nuus nie ….. ons verwag dit jaarliks met korrupsie wat heelbo is!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.