Limpopo waarsku teen cholera

Argieffoto

Argieffoto

Inwoners van Limpopo wat hul drinkwater uit riviere of boorgate haal, word aangeraai om die water eers te kook om hulself teen cholera te beskerm.

“Siektes soos cholera is een van die grootste oorsake van sterfte, siektes en gestremdhede in die provinsie,” het Adele van der Linde, woordvoerder vir die departement van gesondheid in Limpopo, Donderdag aan ʼn Sapa-korrespondent gesê. “ʼn Gesonde leefstyl is die sleutel om siektes soos cholera te verhoed. Indien die water uit ʼn rivier, put of boorgat gehaal word, moet dit eers gebleik of gekook word.”

Sy het inwoners ook aangeraai dat vrugte en groente eers in gesteriliseerde water afgespoel moet word. “Alle vleis, vis en groente moet goed gaargemaak word. Kos moet in ʼn koel, skoon plek gehou word en rou en gekookte kos moet apart gestoor word.”

Nege mense is in Desember 2009 in Limpopo dood en 1 854 het siek geword weens cholera.

Cholera word versprei deur kos of water in te neem wat deur ontlasting besmet is.

Slagoffers kan binne ure begin dehidreer en, indien dit nie behandel word nie, kan slagoffers sterf. Indien pasiënte behoorlik en betyds behandel word, is die kans minder as 1% dat hulle sal sterf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Niemand ·

Dit gaan uitbrei na die res van die land. Al die riviere en onderwater raak by die dag meer besoedeld. Daar word niks aan gedoen nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.