Lions kry plek in 2014 se Super15

Die Lions het vanaand hul plek in 2014 se Super15 bespreek ondanks ’n nederlaag van 23-18 teen die Southern Kings in die tweede en beslissende promosie/relegasie-wedstryd.

Die Kings moes met meer as sewe punte seëvier om deel van die Super15 te bly nadat hulle verlede week met 26-19 in Port Elizabeth teen die Lions verloor het. Hulle is nou in die rugbywoestyn en die ander unies het reeds hul beste spelers begin afrokkel vir volgende jaar se Super15-reeks terwyl hul hoofafrigter, Alan Solomons, op pad Skotland toe is.

Dissipline het op die dag die deurslag gelewer met die Kings wat heelwat meer strafskoppe en skrums afgestaan het as die Lions. Daar kan bespiegel word oor of Elton Jantjies se swak skopvertoning vanaand nie sy span se nederlaag kon verhoed het nie. Hy het talle verspot maklike skoppe gemis nadat hy verlede week uiters sekuur gekorrel het.

Die Kings-heelagter Scott van Breda het met drie strafskoppe in die eerste helfte geslaag en Jantjies het eers ná ’n halfuur sy span span se eerste punte via ’n strafdoel aangeteken. Die Leeus-flank Derick Minnie het laat in die tweede helfte gaan druk toe hy oorgedryf is.

Die Lions het in die tweede helfte die druk verder verhoog en veral die vaste skrums gedomineer. Jantjies het immers sy span met ’n strafdoel laat voorloop danksy ’n Kings-skrumoortreding toe die Lions hulle op die agtervoet gehad het.

Jaco Kriel het die voorsprong daarna verder gerek toe die Lions die bal laat loop het in die agterlyn en hy Scott van Breda met ’n fopaangee geflous het om oor te duik. Jantjies het die telling 18-9 gemaak en die Leeus was stewig in die saal.

Die Kings het egter gewys hoekom hulle al met die Brumbies vanjaar afgereken het. Schalk Ferreira het Guy Cronje met die hulp van Jacques Engelbrecht uit die pad gevee op pad doellyn toe en Van Breda het die gebruiklike twee punte bygevoeg.

Nadat die Leeus-uitblinker Stokkies Hanekom afgestuur is, het die Kings hul getalle-oorwig ontgin en vanuit hul eie kwartgebied aangeval met Van Breda wat uiteindelik ’n pragdrie in die hoekie gedruk het. Hy het sy eie drie op die koop toe verdoel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

JO-ANNE SMITH ·

Lekker JC en sy Lions Span!!! Maak nie saak wat die scoreboard wys nie, julle speel weer volgende jaar Superrugby!! Kan nie wag om julle weer te sien speel nie! Hou so aan! Jammer JC janse van Rensburg dat jy nou vaarwel roep aan die Lions, maar dankie vir alles wat jy ingesit het – jy is ‘ yster en ‘n uitmuntende kaptein! Alles van die beste vir jou vorentoe!

Magda Grobler ·

Kings hou moed julle het fantasties gedoen vir die kort tydjie wat julle deelneem, ek glo jul gaan nog groot hoogtes bereik.

Corrie Steyn ·

wat jy waar gaan kry Magda Gobler. die Kings spat uitmekaar, die Watsons kots nog steeds die afrigter hardloop weg, dream on girl dream on.
Blou bul maar ook leeus ondersteuner.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.