Lisensie vir man wat glo drawwers doodry

Sibusiso Langa

Die Pretoriase hooggeregshof het Maandag beveel dat ‘n man, wat glo vyf drawwers doodgery het, se bestuurderslisensie aan hom teruggegee moet word.

Sibusiso Langa, ‘n meganiese ingenieur, was glo onder die invloed van alkohol toe hy met sy Mercedes-Benz ML500 op 23 Oktober 2011 in die groep drawwers geploeg het. Die landdroshof in Pretoria het verlede jaar Langa se hofsaak na die hooggeregshof verwys. Die hof het egter Maandag gehoor dat Langa se verdedigingspan nog nie gereed is nie. Die verdediging het ‘n pleitooreenkoms ingedien, wat vroeër die maand deur die Staat van die hand gewys is.

Richard Mkhabela, een van Langa se prokureurs, het aan die hof gesê dat die voorbereiding vir ‘n hofsaak verhinder word, aangesien sy kliënt nie sy bestuurderslisensie het nie, en sy bewegings dus beperk word.

Regter Potteril Sulette het die Staat aangesê om Langa se bestuurderslisensie aan hom te oorhandig.

Tydens sy vorige verskyning in die hof, op 11 Mei in die Pretoriase landdroshof, het die aanklaer gesê hy staar vyf aanklagte van moord, een van poging tot moord en aanklagte wat met dronkbestuur verband hou, in die gesig.
Hy is in Oktober 2011 op R80 000 borgtog vrygelaat. As deel van sy borgtoestande moes Langa, ‘n Amerikaanse burger, is aangesê om beide sy paspoorte en sy bestuurderslisensie te oorhandig.

Die drawwers wat in die ongeluk gesterf het, was Given Mills, Nomvula Dumeko, Reneilwe Lesenyeho, Moroesi Mokoatsi en Isaac Tlale. ‘n Sesde drawwer, Khanyiswa Stengile, het ‘n operasie ondergaan en het die voorval oorleef. Die groep was besig om vir die Soweto Marathon te oefen.

“Die besluit maak weer my wonde oop. Dit is of my kind sopas dood is,” het Mashudu Mills (56), Given Mills se ma, net ná die uitspraak gesê.

Die saak is tot Donderdag uitgestel.

Lees ook:
Drawwers ter ruste gelê, bestuurder kry borg
Man wat glo drawwers doodry op borgtog vrygelaat
Man verskyn in hof nadat hy glo drawwers doodry
Ndebele: Motoris wat drawwers doodry moet van moord aangekla word
‘Dronk’ bestuurder wat vyf drawwers doodry het glo probeer vlug
Vyf drawwers sterf na motoris hulle omry

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.