Lochner de Kock: So uit die perd se bek

Lochner de Kock

Donkie- en perdevleis is “hingse” gesond, veral ʼn jongetjie is baie “fillend”. Só skerts die kreatiewe koskenner, sanger en akteur, Lochner de Kock, oor die storm wat losgebars het ná dit aan die lig gekom het dat daar onder andere donkie-, waterbuffel- en bokvleis in Suid-Afrikaanse vleisprodukte is. Lees meer hier.

Lochner het Woensdag vanuit sy nuwe restaurant en kuierplek, Vel en Horing in Johannesburg, aan Maroela Media gesê almal wat al ʼn goeie salami geëet het, het al van dié vleis ingekry, en hulle is nog nie dood daarvan nie.

“Volgens streng wette in Italië moet goeie salami ʼn sekere persentasie perde- of donkievleis bevat,” het hy gesê. Hy sê mense het egter baie sentiment as hulle daaraan moet dink dat hulle ʼn “perdjie” of “donkie” eet, maar dieselfde mense het nie ʼn probleem om ʼn “lamtjoppie” te verorber nie.

“Dit laat my dink aan die storie oor die slagter. ʼn Vrou stap by haar slaghuis in en vra watter winskopies die slagter het. Hy sê toe sy tong is baie goedkoop. Die vrou sê toe: ‘Nee dankie, ek eet nie iets wat uit ʼn dier se bek kom nie, gee my eerder ʼn dosyn eiers’.”

Op die vraag of hy enige perd- of donkie-disse by sy restaurant sal bedien, sê Lochner: “Op aanvraag sal ek vir die mense gee wat hulle wil hê. Hier kom nogal baie Duitse en Belgiese gaste hier kuier, en dit is vir hulle niks snaaks om sulke vleis te eet nie.”

Hy beklemtoon egter dit is belangriker dat mense weet wat hulle eet en stem saam dat die verpakking die regte bestanddele moet aandui.

Lochner sê een van die lekkerste en vreemdste disse wat hy nog geproe het, was in Namibië. “Dit was ʼn olifanthartkamer, gestop met koedoelewer, en toegedraai in gerookte sebra. Dit word dan soos ʼn boud in die oond gebraai en bedien,” het hy afgesluit.

Vel en Horings het aan die begin van Februarie sy deure oopgemaak. Besoek gerus dié lekker kuierplek in 7de Straat, Melville. Dit is deel van die Nuno’s-restaurant en is daagliks oop van 12:00.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Lorraine Steenkamp ·

More
ek het gehoor van die show die 16de Maart en sal graag manlief wil neem vir sy verjaarsdag ongelukkig moes ek Jacaranda afsit en by die werk ingaan so ek kon nie al die besonderhede kry nie
Laat weet asb al die besonderhede
Baioe dankie
Groete
Lorraine

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.