ʼn Pienk golf word vandag op Loftus Versfeld verwag. Ondersteuners en Bulls-spelers gaan daarheen in pienk opruk ter ondersteuning van die Kankervereniging van Suid-Afrika (Kansa).
Die Bulls gaan die Stormers in hul pienk klere pak as deel van die Bulls en Kansa se Trek-jou-pienk-aan-veldtog. Die kragmeting tussen die Bulls en die Stormers word jaarliks beskou as een van die hoogtepunte in die Super15-reeks.
Die Bulle se hoofborg, Vodacom, het onderneem om R20 000 vir elke drie wat hulle gedurende die wedstryd druk, aan Kansa te skenk. Nog ʼn borg, Oasis, sal R5 000 vir elke drie skenk.
Kansa sal ’n mobiele gesondheideenheid by Loftus hê waar mense vir bors- en velkanker ondersoek kan word.
Die wedstryd skop vanaand net na 19:00 af.