Lolly Jackson se moord moontlik binnekort opgelos

Lolly Jackson

Die raaisel rondom Lolly Jackson se moord kan moontlik binnekort verklaar word.

Die Valke ondersoek tans ʼn multi-miljoenrandse eis teen Jackson se boedel deur ʼn maatskappy wat deur die omstrede Tsjeggiese sakeman, Radovan Krejcir, besit word, berig EWN. McIntosh Polela, woordvoerder vir die Valke, sê “die persoon wat moontlik die eis ingedien het, is Radovan Krejcir”. Krejcir beweer Jackson skuld sy maatskappy $1 miljoen ná ʼn lening in 2010 aangegaan is. Die lening moes glo in Februarie 2012 terugbetaal gewees het.

Jackson se weduwee, Demi, glo die kontrak is vervals en sal Dinsdag die eis in die hof teenstaan. Sy sê die kontrak was deel van ʼn geldwastransaksie tussen Jackson en Krejcir.

Polela sê die ondersoek duur voort.

Intussen het die hof in Ciprus Vrydag beslis dat George Louca, wat daarvan verdink word dat hy Jackson vermoor het, aan Suid-Afrika uitgelewer mag word. Louca is in Maart deur owerhede in Ciprus in hegtenis geneem ná ʼn versoek van die Suid-Afrikaanse polisie. Volgens Mthunzi Mhaga, woordvoerder van die nasionale vervolgingsgesag, het Louca nou twee weke om teen die uitleweringsuitspraak te appelleer.

Die Teazers ontkleeklub-baas, Lolly Jackson, is op 3 Mei 2011 in sy huis in Edenglen, oos van Johannesburg, doodgeskiet.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.