Londense sakelui trek noustrop met Olimpiese Spele

Eers het Londen-inwoners gekla dat die Olimpiese Spele groter verkeersdruk vir die inwoners tot gevolg sou hê. Nou, geoordeel aan die klaagliedere van vele sakelui, moet Londen amper ‘n spookstad wees en dreig ‘n finansiële krisis vir baie sakelui.

Reeds in Maart het die Britse Office for Budget Resonsibility gewaarsku dat Olimpiese toeriste gewoonlik ander toeriste afskrik. Hulle stel hul besoeke uit of af. Hulle vrees onder meer samedromming en dat sakelui hul pryse sal opjaag om te skep solank dit pap reën.

Olimpiese toeriste stel gewoonlik nie in die gewone toerisme-aktiwiteite en besienswaardighede belang nie en konsentreer eintlik net op sport. As hulle nie by ‘n sportitem self is nie, kyk hulle in hotelkamers op TV na die spele.

Nog ‘n verskynsel is dat baie werkgewers, uit vrees vir die verwagte samedromming, baie van hul werkers vir die duur van die spele van die huis af laat werk. Die firma KPMG het sowat die helfte van sy 5 500 werkers van die huis af laat werk.

Die Belgiese ekonoom, Geert Noels, het Londen besoek en het aan De Standaard gesê die idee dat ‘n Olimpiese Spele as ekonomies lewensvatbare projek kan dien, is fiksie.

Visa het voor die spele voorspel dat die Britse ekonomie ‘n inspuiting van 5,1 miljard pond sou kry. Dié voorspelling is nie noodwendig verkeerd nie – sulke gebeurtenisse neig net om individuele sakelui op verskillende maniere te raak. Visa het voorsien dat die hotelindustrie ‘n bykomende 122 miljoen pond sal verdien. Visa het ook voorsien dat kleinhandelaars amper ‘n bykomende 200 miljoen pond sou inoes. Hiermee sal die eienaar van ‘n karwasonderneming wat in een dag tydens die spele 60 pond verdien het, nie saamstem nie.

Tradisioneel kry sommige ondernemings elders ter wêreld ook swaarder tydens geleenthede soos die Olimpiese Spele. Die potensiële klante verwyl elke beskikbare oomblik voor die TV, en stel alle inkopies en transaksies uit wat uitgestel kan word. Kuierplekke en kitskosplekke elders in die wêreld kry dan egter gewoonlik meer aftrek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.