Lonmin-bloedbad: Beampte praat oor moetie en tokkelossie

Foto: Taurai Maduna/EWN

Die Farlam-kommissie het Woensdag in Rustenburg aangehoor dat moetie ‘n mens teen “gediertes soos die tokkelossie”  beskerm.

Saziso Gegeleza, ʼn unieverteenwoordiger van die Nasionale Mynwerkersunie (NUM), het dié bekentenis gemaak nadat hy deur Ishmael Semenya, wat die polisie verteenwoordig, ondervra is oor die rol wat moetie in verlede jaar se Lonmin-bloedbad gespeel het.

“Ek het nie ondervinding in die gebruik van moetie nie,” het Gegeleza gesê, maar  verduidelik dat die enigste moetie waarvan hy bewus is, gebruik word om vroue aan te trek.

ʼn Nadoodse ondersoek het bevind dat van die slagoffers wat by Marikana gesterf het, vars snymerke op hul liggame gehad het. Semenya het gevra wat die rede hiervoor is, waarop Gegeleza gesê het: “Dit word soms gedoen om mense teen gediertes soos die tokkelossie te beskerm. Ek weet nie of dit teen mense werk nie, maar dit het ʼn effek op die tokkelossie.”

Die Farlam-kommissie ondersoek die dood van 44 mense tydens die gewelddadige staking by Lonmin se Marikana-myn in Augustus verlede jaar. Op 16 Augustus is 34 stakende mynwerkers doodgeskiet en 78 beseer nadat die polisie glo uit selfverdediging op hulle moes skiet.

Die ondersoek duur voort.

– Sapa

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.