“Lonmin dwing vakbonde om te staak” sê Solidariteit

Stakende mynwerkers by Lonmin verlede jaar. Foto: Taurai Maduna/EWN

Die vakbond Solidariteit het Maandag aangekondig dat hy ʼn staking by Lonmin oorweeg ten einde sy erkenning by die maatskappy te laat herstel. Volgens Solidariteit is hy reeds met ander vakbonde, insluitende die National Union of Mineworkers (NUM), oor moontlike gesamentlike optrede in gesprek. Dit volg nadat Lonmin ʼn erkenningsooreenkoms gesluit het waarin slegs die Association of Mineworkers and Construction Union (Amcu) as vakbond erken word.

Die erkenningsooreenkoms tussen Lonmin en Amcu sluit ʼn bisarre klousule in waarvolgens ʼn vakbond wie se erkenning opgehef is, weer erkenning kan kry indien sy lede aan ʼn ontwrigtende staking deelneem (sien aangeheg). Solidariteit het ʼn dispuut hieroor verklaar en dit na die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) verwys. Lonmin se besluit om ʼn ooreenkoms met net die meerderheidsvakbond te sluit, verbreek die raamwerkooreenkoms vir ʼn volhoubare mynbedryf wat onlangs tussen die belanghebbendes in die bedryf gesluit is. Ingevolge die raamwerkooreenkoms moet die meerderheidsbeginsel hersien word. “Dit is ironies dat die maatskappy waar die onrus in die bedryf begin het, nou die gees van die raamwerkooreenkoms verbreek en weer die toestande skep vir verdere ontwrigting in die bedryf. Die nuwe erkenningsooreenkoms vereis van vakbonde om ontwrigtend te staak indien hulle erken wil word,” het Gideon du Plessis, hoofsekretaris van Solidariteit, gesê.

Volgens Du Plessies het Solidariteit begin om ʼn mandaat van sy lede oor die moontlikheid van ʼn staking te kry. “ʼn Staking sal egter die laaste uitweg wees, aangesien dit vernietigende gevolge kan hê. So ʼn staking sal Lonmin ongeveer R60 miljoen per dag aan produksiesverlies kos. Die ironie is dat Amcu-lede sowat R18 miljoen in bonusse sal verloor indien Solidariteit en die ander vakbonde se lede daar slegs vir een dag sou staak. Solidariteit se lede is die geskoolde werknemers wat in die verlede, tydens die ontwrigting wat deur Amcu aangevuur is, die myn aan die gang gehou het. Lonmin het egter besluit om onluste te beloon en verantwoordelikheid te straf. Lonmin sal nie in ʼn komende staking op die vaardighede van die Solidariteit-lede kan staatmaak nie,” het Du Plessis gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.