Lonmin-geweld: Dodetal styg tot 36

Foto: Taurai Maduna/EWN

Die National Union of Mineworkers (NUM) het Vrydag bekend gemaak dat die dodetal ná Donderdagmiddag se skietery by Lonmin se Marikana-myn naby Rustenburg tot 36 gestyg het.

Die polisie moes Donderdag ondermeer met rubberkoeëls, traangas en verdowingsgranate op betogers by die myn losbrand. Die polisie het gesê hulle het geen ander keuse gehad as om geweld te gebruik nie.

“Die polisie is wreedaardig deur die groep stakende mynwerkers aangeval. Die stakers het verskeie wapens, asook vuurwapens by hulle gehad,” het kapt. Dennis Adriao, ʼn polisiewoordvoerder, in ʼn verklaring gesê. Adriao het gesê die polisie moes geweld gebruik om hulle eie lewens te beskerm. Die geweld het net na 16:00 gister uitgebreek toe die oproeriges met pangas en assegaaie op die polisie afgestorm het waarop die polisie begin skiet het. Hy het gesê die geweld volg na die polisie  uitgebreide, maar onsuksesvolle onderhandelinge met die groep stakende mynwerkers gehad het.

Frans Baleni, NUM se sekretaris, het Vrydag gesê hulle is hartseer oor die verlies van lewe en dat die voorval verhoed kon word.

Intussen het Zweli Mnisi, woordvoerder van die minister van polisie, Vrydagoggend aan die media gesê die polisie se syfers wys dat meer as 30 mense dood is. Mnisi het gesê dié syfer kan nog styg. Hy blameer die voorval op die unie-leiers en mynbestuurders. “Die polisie kan nie arbeidsaangeleenthede oplos nie. Die rolspelers moes iets gedoen het om die spanning te ontlont voordat dit in ʼn bloedbad ontaard het,” het hy gesê.

Stakers het Vrydagoggend weer digby die Lonmin-myn begin saamdrom. Die onafhanklike polisie-ondersoekdirektoraat ondersoek die voorval.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.