Lonmin-geweld: Malema en leiers kla polisie aan

Julius Malema, voormalige president van die ANC-jeugliga, gaan Dinsdag werkers van Lonmin se Marikana-myn vergesel om klagtes teen die polisie in te dien.

Floyd Shivambu, voormalige woordvoerder van die ANC-jeugliga, het in ʼn verklaring gesê Malema gaan leiers van stakende mynwerkers na die Marikana-polisiestasie vergesel om ʼn klagte van moord teen die polisie aanhangig te maak wat verlede Donderdag die dood van 34 mynwerkers veroorsaak het.

Maroela Media het vroeër berig Malema het Saterdag by die gebied opgedaag. Die inwoners en mynwerkers het Malema met ope arms ontvang. Sommige persone het hande geklap. Malema het die nagenoeg 3 000 rotsbooroperateurs aangemoedig om aan te hou staak totdat daar aan hulle eise voldoen word.

Ten minste 44 mense is reeds dood sedert die gewelddadige aksie by die myn voorverlede Vrydag begin het. President Jacob Zuma het die gebied Vrydag besoek en die geweld veroordeel. ʼn Formele ondersoek na die gebeure is ook van stapel gestuur. Die polisie het 260 mynwerkers in verband met publieke geweld in hegtenis geneem.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.