Lonmin-geweld: Vakbond vra aksie

Die vakbond Solidariteit het Dinsdag ʼn beroep gedoen op Lonmin om werknemers wat by die geweld by sy Marikana-myn naby Rustenburg betrokke was, af te dank. Solidariteit eis verder dat werknemers wat hulself aan kriminele dade skuldig gemaak het, strafregtelik vervolg word.

Volgens Gideon du Plessis, hoofsekretaris van Solidariteit, is dit verblydend dat die polisie ingegryp het in die voortslepende geweld, maar is dit te laat vir die minstens nege mense wat reeds in die geweld dood is. Solidariteit het gister reeds die polisie versoek om ernstig op te tree ten einde te verseker dat die geweld stopgesit word. “Dit is nou tyd vir ʼn daadwerklike ingryping in die platinumsektor. Formele kollektiewe bedingingsforums moet geskep word met streng riglyne wat onder meer bepaal dat alle kollektiewe bedingingsprosesse slegs binne die kollektiewe bedingingstrukture en -riglyne kan plaasvind. Die erkenning van ʼn vakbond wat buite die riglyne optree moet met eerste oortreding opgeskort word en indien dit herhaal word, moet so ʼn vakbond se erkenning teruggetrek word.”

Du Plessis sê die gebruik van erkenningsdrempels en -vereistes in die mynbedryf moet ook hersien word. “Buitengewoon hoë drempels, byvoorbeeld 50% plus een, word dikwels toegepas, wat tot gevolg het dat ander vakbonde uitgesluit word. Die portefeuljekomitee oor arbeid moet die kwessie dringend bespreek. Solidariteit is ook van mening dat die registrateur van vakbonde meer magte by die departement van arbeid moet kry om vakbonde se registrasie op te skort, soos in die geval van AMCU, waar ʼn patroon van gewelddadige en ongeoorloofde gedrag en optrede ontwikkel het.”

Solidariteit stel voor dat die departement van arbeid ʼn spitsberaad moet hou oor die rol en verantwoordelikhede van vakbonde en hul wisselwerking met werkgewers in die platinumsektor.

“Die departement van minerale bronne se taakspan oor die platinumsektor, asook Migdett, die taakspan gemoeid met groei, ontwikkeling en indiensneming in die mynbedryf, moet dringend aandag gee aan spesifiek die destabilisering van die platinumbedryf en die invloed wat dit onder meer op beleggers het,” sê Du Plessis.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.