Lonmin mag nou glo stakers afdank

Stakers by Lonmin Foto: Taurai Maduna, EWN

Die arbeidshof het ‘n finale bevel aan Lonmin toegestaan om die staking by sy Marikana-myn as onbeskermd te verklaar.

‘n Arbeidsprokureur het aan die Saturday Star gesê dat die hofbevel wettige gronde kan stel om die myners af te dank indien die staking sou voortduur. “Die bevestiging van die hofbevel is finaal en die werknemer kan stappe doen teen die werkers indien hulle nie aan die regsimplikasies voldoen nie,” het hy gesê.

Biskop Joe Seoka, president van die Suid-Afrikaanse Raad vir Kerker, wat aan die bemiddeling deelgeneem het, het gesê Lonmin het nie aangedui dat hulle hof toe sou gaan nie. “Dit is ‘n jammerte dat die maatskappy dit gedoen het en dit is intimidasie teen die werkers. So iets gaan die situasie vererger,” het Seoka gesê.

Regter Edwin Molahlehi het verlede maand ‘n interim bevel toegestaan, en waarnemende regter Anton Myburgh het die bevel dié week in die arbeidshof bevestig en gefinaliseer.

Die bevel verbied ook stakende werkers om ander werkers te verhoed om te werk.

Die staking het meer as ‘n maand gelede begin toe werkers op ‘n maandelikse salaris van R12 500 aangedring het. Werkers het Vrydag die nuwe loonaanbod verwerp. ‘n Tweede loonaanbod is Vrydagaand gemaak.

45 mense het reeds weens dié gewelddadige aksie gesterf.

-SAPA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.