Lonmin-mynwerkers kry ultimatum

Foto: Taurai Maduna/EWN

Lonmin het ʼn ultimatum aan nagenoeg 3 000 stakende werknemers gegee om Maandag terug te keer werk toe of moontlik afgedank te word.

Die maatskappy het werknemers vroeër versoek om reeds Vrydag terug te gekeer het werk toe maar het die spertyd aangestel na afloop van Donderdag se skietery by sy Marikana-myn buite Rustenburg waarin 34 werknemers dood is. Die ultimatum is slegs van toepassing op rotsbooroperateurs wat sedert 10 Augustus aan ʼn onwettige staking deelneem. Die regering het intussen aangekondig dat Collins Chabane, minister in die presidensie, aan die hoof sal staan van die inter-ministeriële komitee wat Donderdag se geweld sal ondersoek. Thandi Modise, premier van Noordwes, Susan Shabangu, minister van minerale bronne, Nathi Mthetwa, minister van polisie, en Mildred Oliphant, minister van arbeid, is van die ander ministers wat ook deel uitmaak van die komitee. Chabane se komitee sal reeds Maandag die myn besoek. President Jacob Zuma het intussen ʼn rouperiode aangekondig van 20 tot 26 Augustus met vlae wat halfmas sal hang vir die 44 mense, waaronder twee polisiebeamptes, wat in die geweld by Lonmin se Marikana-myn dood is. Gedenkdienste sal Donderdag regoor die land gehou word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.