Lonmin ontken nuwe loonaanbod

Stakende Lonmin-werkers by Marikana Foto: Taurai Maduna, EWN

Die bestuur van Lonmin het Sondag gesê dat hulle nie ‘n nuwe loonaanbod aan stakende mynwerkers by Marikana gemaak het nie, ten spyte van bewerings deur die National Union of Mineworkers (NUM).

Die vakbond het Saterdag gesê die mynreus het ‘n verhoging van R1 300 aan basiese werkers aangebied. Lonmin-bestuur sê egter die verwarring het ontstaan toe hy sy oorspronklike aanbod van Vrydag duidelik gemaak het, berig EWN. Die maatskappy het gesê die eerste aanbod van ‘n 16%-verhoging vir intreevlak-werkers is steeds op die tafel. Die myn het dit benadruk dat hulle nie die werkers se eis van R12 500 kan bekostig nie.

Volgens NUM sou die nuwe aanbod deur die loop van die naweek vir sy lede aangebied word. Die Association of Mineworkers and Construction Union (Amcu) het gesê hy is geskok en ontsteld dat hy nie oor die nuwe aanbod ingelig is nie. Dié vakbond sê hy word by loononderhandelings uitgesluit.

Lonmin-bestuur het ook bevestig dat hy nie Donderdag se dringende interdik deur die arbeidshof om die staking te stop, tot uitvoer sal bring nie. Abey Kgotle, woordvoerder van die maatskappy, het gesê die rede waarom hulle nie die interdik sal uitvoer nie, is omdat hulle by die proses betrokke is. “Ons het met die vredesverdrag begin en nou onderhandel ons,” het Kgotle gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.