Lonmin skors vakbondleiers wat glo bedrog pleeg

Betogende mynwerkers tydens ‘n onwettige staking by Marikana. Foto: Makwena Manamela / Twitter

Agt vakbondverteenwoordigers van die National Union of Mineworkers (NUM) is geskors ná beweerde vakbondlidmaatskapbedrog, het die platinum-mynreus Lonmin Dinsdag gesê.

“Lonmin het agt werknemers geskors ná ʼn ondersoek oor bewerings van lidmaatskapbedrog. Drie van die werknemers is tans in die middel van ʼn tugverhoor, terwyl die ander vyf se verhoor later die week sal begin,” het Sue lindsell-Steward, woordvoerder van Lonmin, gesê.

Die vakbondverteenwoordigers het glo debietorders vervals om dit te laat voorkom of lede van die Association of Mineworkers and Construction Union (Amcu) hul vakbond verlaat en by NUM aangesluit het. Die maatskappy sê dit is bevestig dat 200 debietorders op hierdie manier vervals is en by Lonmin se menslikehulpbronne-departement ingedien is.

Die bedrog sou daartoe lei dat ledegeld wat aan Amcu verskuldig is, aan NUM uitbetaal sou word, en NUM ook help om sy verteenwoordiging te herstel.

NUM het tot 16 Julie om sy status as meerderheidvakbond te herstel, of hy sal sy kantoor op skagvlak moet ontruim. Die gebruik van die kantoor word deur die maatskappy aan die meerderheidvakbond toegestaan, terwyl ander vakbonde slegs een sentrale kantoor kry om ledesake te hanteer. Amcu het NUM verlede jaar ná ʼn onwettige staking in Marikana, Noordwes, as meerderheid vakbond uitgestof. Amcu het 70% van die ongeskoolde werkers en masjienoperateurs as lede verwerf.

Wedywering tussen die twee vakbonde het in Augustus 2012 tot die dood van 44 mense in Marikana gelei.

Lesiba Seshoka, woordvoerder vir NUM, het Dinsdag gesê die maatskappy het die reg dissiplinêre stappe te doen teen enigiemand wat na bewering bedrog gepleeg het. “Ons hoop die aanklagte wat hulle in die gesig staar is waar en nie deur iemand opgemaak nie,” het Seshoka gesê. Hy sê dit is nie waar dat vakbondleiers gepoog het om Amcu-lede te werf nie. “Jy kan nie lidmaatskap ‘kook’ nie.”

Die vakbond het 800 lede gewerf, alhoewel toestande glo nie gunstig was vir werwing by Rustenburg se myne nie. “Jy kan nie werwing doen wanneer daar geweld en intimidasie is nie,” het hy bygevoeg.

Sedert die onwettige staking in Marikana verlede jaar is ten minste 20 NUM-lede vermoor, het Seshoka bygevoeg.

Tydens ʼn twee daelange staking in Mei het Amcu-lede geëis dat die NUM-kantoor gesluit moet word en het hulle die vakbond van lidmaatskapbedrog aangekla.

Dié staking het gevolg ná die afsterwe van Amcu se streeksleier, Mawethu Steven. Hy is op 11 Mei by ʼn kroeg in Photsaneng doodgeskiet, op dieselfde dag wat die tweeling, Andile en Ayanda Menzi (24) by ʼn plakkershut in Wonderkop geskiet is. Een is op die toneel dood verklaar en die ander het in die hospitaal aan sy beserings beswyk.

ʼn NUM-vakbondverteenwoordiger is doodgeskiet en nog een is Maandag by Wonderkop gewond.

Die polisie het 34 stakende mynwerkers op 16 Augustus doodgeskiet. Tien mense, insluitend twee polisiebeamptes, is die vorige week dood as gevolg van onrus in die gebied.

Werkers het op ʼn maandelikse salaris van R12 500 aangedring. Die staking het in September tot ʼn einde gekom.

Die moord van vakbondleiers in die gebied word aan wedywering tussen die twee vakbonde verbind.

Thandi Modise, premier van Noordwes, het ʼn beroep gedoen op Amcu en NUM om die geweld te veroordeel en hulself toe te wei aan vreedsame samewerking by Lonmin en ander myne rondom Rustenburg. Modise doen ʼn beroep op werknemers om kalm te bly en die polisie by te staan in hul ondersoek om diegene wat verantwoordelik is vir die onlangse geweld uit te ken.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.