Lonmin verwyder omstrede stakingsklousule uit erkenningsooreenkoms

Die rolspelers tydens ‘n vorige ondertekening van die vredesooreenkoms by Lonmin. Foto: Reint Dykema

Die vakbond Solidariteit het Maandag ʼn sespunt-aksieplan teen Lonmin bekendgemaak na afloop van ʼn dispuutvergadering wat Vrydag tussen die partye plaasgevind het. Die dispuutvergadering was ʼn uitvloeisel van Lonmin se ondeurdagte besluit om Solidariteit en twee ander vakbonde se erkenning ten gunste van Amcu op te hef. Solidariteit het tydens die vergadering ʼn verduideliking van Lonmin gevra oor die kontroversiële klousule in die erkenningsooreenkoms met Amcu. Soos wat die klousule lees, sou Lonmin die status van ʼn vakbond waarvan die erkenning opgehef is, weer herstel indien die vakbond tot ʼn staking, wat Lonmin se mynbedrywighede negatief raak, sou oorgaan.

Volgens Gideon du Plessis, hoofsekretaris van Solidariteit, het Lonmin aangedui dat dié klousule weens ʼn tegniese fout in die finale ooreenkoms vervat is en dat die klousule en talle ander klousules sedert die ondertekening op 14 Augustus 2013 uit die ooreenkoms verwyder is. “Lonmin het ook aangedui dat ‘n gewysigde ooreenkoms sedertdien weer met Amcu onderteken is. Lonmin was egter nie bereid om ʼn afskrif van die hersiene ooreenkoms aan Solidariteit te verskaf nie. Lonmin het voorts geargumenteer dat ooreenkomste in elk geval van tyd tot tyd aangepas word en dat dit gevolglik nie as vreemd geag moet word dat die ooreenkoms met Amcu hersien is nie. Solidariteit is egter van mening dat die stakingsklousule verwyder is na aanleiding van die verleentheid en ongemak wat dit vir beide Lonmin en Amcu geskep het.”

Du Plessis sê om ʼn erkenningsooreenkoms binne enkele dae ná ondertekening te hersien dui op beide Lonmin en Amcu se onbeholpenheid om die bewoording in ooreenkomste te bestudeer en die implikasies daarvan te voorsien. “Die voorval is sprekend van Lonmin se swak oordeel sowel as van die buigbaarheid van ooreenkomste wat Lonmin met vakbonde aangaan. Lonmin het Solidariteit die afgelope maande herhaaldelik meegedeel dat hy nooit ʼn ooreenkoms wat op die meerderheidsbeginsel berus met Amcu sal onderteken nie. Lonmin het selfs aangedui dat hy bereid sou wees om ʼn staking van Amcu te absorbeer ten einde Solidariteit se erkenning te beskerm in die lig van Solidariteit se bydrae en ondersteuning gedurende die tydperk van arbeidsonrus. Lonmin het egter in gebreke gebly om hierdie ooreenkoms met Solidariteit te eerbiedig.”

Lonmin het by Vrydag se vergadering aangedui dat ingevolge sy nuwe ooreenkoms met Amcu Solidariteit se erkenning nie herstel sal word nie. Du Plessis sê weens die feit dat Lonmin, soos in die geval van Aurora Empowerment Systems, ʼn verleentheid en risiko vir die mynbedryf geword het, het die vakbond ʼn sespunt-aksieplan opgestel om Lonmin op die regte pad te kry en te dwing om die vakbond se erkenning te herstel. Volgens Du Plessis behels die aksieplan die volgende:

1.    Arbeidsoptrede

Lonmin het ʼn kultuur geskep waarvolgens ontwrigting van die werkplek beloon word, terwyl verantwoordelikheid gestraf word. Lonmin het dit gedoen deur onder meer Amcu te erken as meerderheidsvakbond en Solidariteit se erkenning op te hef, ten spyte van Solidariteit se verantwoordelike en ondersteunende optrede. Lonmin het dus deur die ondertekening van die erkenningsooreenkoms met Amcu ʼn kultuur van ontwrigting geïnstitusionaliseer.

N0udat die partye se dispuutvergadering op ʼn dooiepunt uitgeloop het, sal Solidariteit met die ondersteuning van die Nasionale Unie van Mynwerkers (NUM) by die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) ʼn geskilproses volg wat moontlik op ʼn staking kan uitloop. Solidariteit se lede beskik oor kritieke en skaars vaardighede en dit sal groot ontwrigting vir Lonmin se mynbedrywighede veroorsaak indien hulle sou staak. Die ondersteuning van die NUM as stakingsvennoot sal die doeltreffendheid van die staking verhoog deurdat Lonmin ten minste R60 miljoen per dag in produksieverliese kan ly.

As deel van die ooreenkoms met Amcu word die drie vakbonde, wie se erkenning teen die middel van November finaal beëindig sal word, steeds toegelaat om gedurende September 2013 vir die laaste keer salarisverhogings vir hul lede te beding. Die kans is goed dat die drie vakbonde se afskeidsgeskenk aan Lonmin ook ʼn salarisstaking sal wees indien Lonmin nie teen die tyd Solidariteit se erkenning herstel het nie.

2.     Drukuitoefening in die presidensiële mynbouforum

Die doel van die raamwerkooreenkoms vir ʼn volhoubare mynboubedryf, ʼn inisiatief van adjunkpresident Kgalema Motlanthe wat in opdrag van president Jacob Zuma uitgevoer is, was om binne 12 maande stabiliteit in die mynbedryf te bewerkstellig. Die onderliggende rede vir die onstabiliteit in die mynbedryf was onder meer die uitsluiting van vakbonde weens die ondemokratiese meerderheidsbeginsel. Terwyl Amcu in gebreke gebly het om die raamwerkooreenkoms te onderteken, maak die ooreenkoms voorsiening vir die onmiddellike uitfasering van die meerderheidsbeginsel. Lonmin, ’n ondertekenaar van die raamwerkooreenkoms, is nou die eerste party wat die ooreenkoms verbreek het. Dit kom teen die agtergrond van Lonmin se vorige swak arbeidsverhoudingebesluite en gevaarlike presedente wat aanleiding gegee het tot die Marikana-gebeure en die oorspoel van die destruktiewe arbeidsonrus na ander sektore.

Die leierskap van belanghebbende partye in die mynboubedryf vergader op Dinsdag 27 Augustus onder voorsitterskap van adjunkpresident Motlanthe om die voldoening en suksesse van die raamwerkooreenkoms te evalueer. Solidariteit sal by die vergadering ʼn amptelike klag by adjunkpresident Motlanthe teen Lonmin indien weens dié mynmaatskappy se verbreking van die raamwerkooreenkoms wat arbeidsverhoudingspanning weer verhoog het en lede van sy werksmag wat oor kritieke vaardighede beskik van hul grondwetlike reg op vryheid van assosiasie ontneem het.

3.    Parlementêre prosesse

Parlementêre debatte oor die meerderheidsbeginsel, met Lonmin as gevallestudie, gaan aangevra word. Solidariteit se Navorsingsinstituut het reeds ʼn konsepwysiging van die wet voorberei wat binnekort vir bespreking vrygestel gaan word. Steun gaan van politieke partye verkry word en samewerkingsgesprekke gaan met ander vakbonde gevoer word.

4.    Internasionale druk deur die Internasionale Arbeidsorganisasie (IAO)

Gesprekke is reeds die afgelope week met internasionale vakbonde, wat verteenwoordiging geniet op die Internasionale Vakbondkonfederasie (ITUC), gevoer oor die meerderheidsbeginsel en Lonmin se ondeurdagte voortsetting daarvan. Die IAO gaan gevra word om advies oor internasionale reg en praktyk te gee.

5.    Skrywes aan Lonmin se aandeelhouers

ʼn Veldtog gaan gevoer word waarin Lonmin-aandeelhouers gevra gaan word om in te gryp oor Lonmin se swak oordeel rakende die bestuur van arbeidsverhoudinge en die gevaar wat dit vir die mynbedryf en Suid-Afrika inhou.

ʼn Ondersoek sal ook gedoen word rakende Lonmin se moontlike nievoldoening aan sy maatskaplike arbeidsplan (Social and Labour Plan), wat as ondersteuning dien vir sy mynlisensievoorwaardes.

6.    Regsoptrede

Aangesien die toepassing van die meerderheidsbeginsel grondwetlike elemente bevat, sal daar met ‘n regsproses begin word om die grondwetlikheid van Lonmin se optrede rakende die meerderheidsbeginsel, wat in artikel 18 van die Wet op Arbeidsverhoudinge vervat is, en die grondwetlikheid van Lonmin se skending van die reg op die vryheid van assosiasie, te toets.

Du Plessis sê Lonmin het die geleentheid gehad om sy reputasie in ere te herstel na die kritiek waaronder die maatskappy sedert Augustus 2012 deurgeloop het, maar dat die maatskappy weer eens getoon het dat sy swak oordeel nou ʼn gewoonte geword het wat groot rede tot kommer vir sy werknemers en aandeelhouers moet bied. “Dit sal dus nie ʼn verrassing wees as die sukkelende Lonmin weer ʼn oornameteiken word nie. Solidariteit sal enige aanbod vir ʼn oorname van ʼn geloofwaardige mynmaatskappy heelhartig ondersteun om ons lede en ander Lonmin-werknemers se werksekerheid te beskerm”.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.