Lonmin-werkers oorweeg loonaanbod

Stakende mynwerkers by Lonmin Foto: Taurai Maduna, EWN

Stakende mynwerkers by Lonmin se Marikana-myn sal Vrydag ‘n loonaanbod oorweeg.

Die aanbod is Donderdagaand gemaak nadat die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA), Lonmin-bestuur, staakleiers en vakbonde ure lank vergader het. Dit is die eerste salarisaanpassingsvoorstel wat gemaak is sedert die sowat 3 000 rotsbooroperateurs vyf weke gelede begin staak het.

Die voorgestelde bedrag is nie bekend gemaak nie, aangesien dit eers aan die stakende mynwerkers voorgelê moet word en die aanbod onderteken moet word. Na verwagting sal die mynwerkers teen Vrydagmiddag ‘n besluit gemaak het, wanneer die onderhandelingskomitee weer sal vergader.

Myners het vroeër die week gesê dat hulle onmiddellik sal terugkeer werk toe indien die aanbod ‘n maandelikse salaris van R12 500 beloop. Indien die voorgestelde bedrag minder is, sal slegs ‘n meerderheidstem deur die mynwerkers bepaal of die ooreenkoms onderteken sal word.

Die staking by die myn het reeds ‘n invloed op die produksie by die myn gehad, en ten minste 45 mense het reeds weens die gewelddadige aksie gesterf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.