Lonmin-werkers se borgtog geweier

Die 259 Lonmin-mynwerkers wat van moord en ander klagtes aangekla word, se borgtog is Maandag in die landdroshof in Ga-Rankuwa geweier.

Die saak is tot volgende week Maandag uitgestel, berig EWN. Die Staat het die hof vroeër versoek om die saak uit te stel om die polisie die kans te gun om die klagtes verder te ondersoek. Die verdagtes is na Donderdag se bloedbad in Marikana, waar 34 mense in ‘n skietgeveg tussen die polisie en stakende werkers gesterf het, in hegtenis geneem. Ten minste 78 ander persone is in die gewelddadige aksie beseer.

Landdros Esau Bodigel het gesê dit is in die belang van geregtigheid om die polisie die geleentheid te bied om ‘n deeglike ondersoek uit te voer. Hy het die argumente dat die polisie nie die korrekte prosedure gevolg het nie, van die hand gewys. Volgens dié argumente moes die polisie die mynwerkers vir meer as 48 uur in aanhouding gehou het. Die regspan wat die Lonmin-werknemers verteenwoordig het versoek dat die mans vrygelaat moet word, aangesien die Staat se saak glo swak is. Aanklaer Bafana Tlhagoane het egter gesê die verdagtes kan nie vrygelaat word nie, weens die erns van die aanklagte teen hulle.

Slegs 39 van die 259 verdagtes het in die hof verskyn weens ‘n tekort aan spasie.

Tydens Bodigel se uitspraak het van die vroue in die hof begin huil.

Betogers buite die hof was egter nie deur die warm weer afgeskrik nie en hulle het gesing en gedans, en versoek dat hul kollegas en bure vrygelaat moes word.

Drieduisend rotsbooroperateurs het voorverlede week Vrydag met ‘n onwettige staking begin. Vakbondtwis tussen die National Union of Mineworkers (NUM) en die Association of Mineworkers and Construction Union (Amcu) is aanvanklik vir die staking blameer, maar betogers het gou bekendgemaak dat hulle ‘n salarisverhoging van R12 500 eis. Dié werkers verdien tans R4 900 per maand.

Stakende werkers het tot Dinsdagoggend 07:00 om by die werk aan te meld, of hulle sal afgedank word, het Lonmin-bestuur Maandag gesê. Slegs een derde van sy taakmag het Maandag vir werk opgedaag, het Mark Munroe, uitvoerende adjunkpresident van Lonmin, bygevoeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.