Loodgieter wat glo hepatitis aan diens opdoen: Saak voorbehou

Die Wes-Kaapse hooggeregshof in Kaapstad het Dinsdag uitspraak voorbehou oor Solidariteit se versoek om gelyk te gee dat ʼn lid van die vakbond, wat ʼn hepatitis-virus by sy werkplek opgedoen het, dit wel opgedoen het terwyl hy aan diens was. Die lid het in September 2004 hepatitis B opgedoen terwyl hy as ʼn loodgieter gewerk het.

Advokaat Paul Mardon, hoof van Solidariteit se afdeling vir beroepsgesondheid en -veiligheid, sê die lid is intussen ongeskik vir werk verklaar. “Sy gesondheid het erg agteruitgegaan nadat hy gediagnoseer is en die siekte het ook emosioneel sy tol geëis.” Volgens Mardon het die werkgewer die saak vroeg in 2005 by die ongevallekommissaris aangemeld, maar laasgenoemde het aangevoer dat hy nie oortuig is dat die lid se siekte met sy werk in verband gebring kan word nie. “Die lid het beswaar aangeteken teen die beslissing, maar tydens die aanhoor van die beswaar in November 2007 kon geen beslissing hieroor gemaak word nie. Kragtens die Wet op Vergoeding vir Beroepsbeserings en -siektes, moes die voorsitter van die tribunaal wat die beswaar aangehoor het, die saak na die hof verwys het vir ʼn beslissing.” Mardon sê die saak het gesloer en is uiteindelik, ná die uitoefening van druk deur Solidariteit, na die hooggeregshof in Kaapstad verwys.

Volgens Mardon het Solidariteit die hof ook Dinsdag versoek om duidelikheid te gee oor die proses wat gevolg moet word wanneer ʼn eis vir ʼn beroepsiekte onsuksesvol is en na ʼn hof verwys moet word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.