“Los opmerking” ontlont dalk Siriese krisis – vir eers

sirië‘n Los opmerking aan joernaliste in Londen deur die Amerikaanse minister van buitelandse sake het die kaarte oor ‘n moontlike Amerikaans geleide aanval op Siriese chemiesewapen-aanlegte deurmekaar gekrap.

John Kerry het in ‘n moontlik onbewaakte oomblik gesê dat Sirië ‘n moontlike aanval kan afweer deur sy chemiese wapens aan die internasionale gemeenskap te oorhandig vir vernietiging.

Kerry het dadelik teruggekrabbel deur te sê hy glo nie Sirië sal tot so iets instem nie, en die departement van buitelandse sake het laat blyk dat dit nie die regering se amptelike standpunt verteenwoordig nie.

Rusland se departement van buitelandse sake het egter dadelik sy volle steun daaraan toegesê, waarop die VSA se departement van buitelandse sake “hoogs skepties” op die voorstel reageer het. Maar Sirië het kort daarna die plan “met oop arms” verwelkom. Sirië se ander bondgenoot wat vetoreg in die Veiligheidsraad het, China, het die plan sedertdien ook gesteun.

Waarnemers in die VSA het dadelik die implikasies begin verreken, waaronder dat dit moontlik ‘n uitkoms bied aan pres. Barack Obama wat ‘n stemmingsneerlaag in die Amerikaanse kongres oor die beoogde aanval kan ly.

Assad se wyd omgaan met die waarheid in die verlede sal egter ‘n belangrike struikelblok bly om westerse lande te oortuig dat Sirië nie maar weer, soos in die verlede, ‘n blaaskans bloot gaan gebruik om sy posisie te konsolideer nie.

Intussen het die Amerikaanse regering ook sy burgers begin voorberei daarop dat daar moontlik weerwraakaanvalle op Amerikaanse teikens kan wees as geteikende aanvalle op Siriese aanlegte uitgevoer word. Na berig word het mense van oor die wêreld wat die regering van pres. Bashar al Assad steun, na Sirië vertrek om as menslike skilde te dien.

Weens die tydsverskil in tydsones, sal die Amerikaanse reaksie op die jongste verwikkelinge eers later vandag bekend word. Terwyl Obama self dag en nag op belangrike kwessies kan reageer, is dit nie vir die Kongres moontlik nie.

Intussen het Human Rights Watch ook aangekondig dat dit heel moontlik is dat die Siriese regering vir die gifgasaanvalle verantwoordelik was wat die herrie veroorsaak het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.