Loterywenner steel glo R250

Argieffoto

Argieffoto

ʼn Voormalige polisiebeampte, wat vyf jaar gelede R10.4 miljoen in ʼn lotery gewen het, word nou daarvan beskuldig dat hy R250 gesteel het, het die Sunday Times berig.

Dayalin Maslamoney (39) sal Dinsdag in die Pietermaritzburg-streekshof verskyn op twee aanklagte van diefstal onder valse voorwendsel en een dat hy homself as ʼn polisiebeampte voorgedoen het.

Maslamoney het die lotto in April 2009 met ʼn R50 QuickPick-kaartjie gewen. Sy egskeiding is verlede jaar in Maart afgehandel. Sy vrou, Reena Pillay, het R2,5 miljoen uit die skikking ontvang. Dit is die helfte van die bedrag wat in hul gesamentlike rekening was.

“Hy het ʼn gedeelte in ʼn hoenderplaas belê en alles verloor toe hy nie by die reëls van die konsessie gehou het nie,” het Siva Chetty, Maslamoney se prokureur, gesê. “Hy kon net nie die geld hanteer nie.”

Hy is nou glo brandarm en deel ʼn klein woonstel saam met twee gesinslede in Pietermaritzburg, volgens Chetty.

Hy het op 4 Februarie in dieselfde hof verskyn saam met sy medebeskuldigde, Zaheer Khan. Maslamoney het aan die hof gesê hy bly in ʼn huis wat deur sy eksvrou besit word en hy verdien R20 000 per maand deur in twee videowinkels te werk, wat ook deur sy vrou besit word. Hy is op borgtog van R2 000 vrygelaat.

Die twee mans, geklee in siviele drag, het glo by ʼn huis ingestorm, ʼn polisiewapen vertoon en geld geëis, het die Sunday Times berig. -SAPA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.