Lottersaak: ‘Ek sou volgende wees’

Johnny en Riekie Lotter.

Nicolette Lotter, wat saam met haar broer en gewese kêrel aangekla word van die moord op haar ouers, het aan die Durbanse hooggeregshof gesê dat sy moontlik die volgende persoon sou wees om vermoor te word.

Lotter (29), wat ontken dat sy haar ouers vermoor het, sê die meesterbrein agter die moorde, haar gewese kêrel Mathew Naidoo, het haar oortuig om haar ma, Riekie, met ʼn mes dood te steek. Hy het glo ook haar broer Hardus oorreed om hulle pa, Johnny, met ʼn elektriese koord te verwurg. Naidoo, Lotter en haar broer Hardus (23) word aangekla van die moord op die Lotter-egpaar in hulle huis in Durban in Julie 2008. Naidoo het glo eers voorgestel dat hulle die Lotter-egpaar met ʼn skokstok aanval en lug in hulle are inspuit om ʼn hartaanval te weeg te bring. Naidoo (25) het glo na die moorde vir Hardus aangeraai om selfmoord te pleeg. Hardus se regsverteenwoordiger, Roland Parsotham, het dit aan Nicolette gestel dat indien haar broer selfmoord gepleeg het dit sou blyk asof hy vir die moorde verantwoordelik was en dat sy en Naidoo “al die pad bank toe sou lag.” Lotter sê dit sou net Naidoo wees wat hieroor “gelag” het. Sy sê terwyl sy in die tronk was, het sy baie tyd gehad om te dink en sy glo nie sy sou lank geleef het na die moorde nie. Sy sê Naidoo het reeds haar finansiële belange beheer en dat hy maklik van haar ontslae sou kon raak wanneer haar ouers se erfgeld beskikbaar gestel is. Lotter sê sy het geen vriende gehad nie en dat indien haar lyk êrens in veld gelos sou word, niemand na haar sou kom soek nie.

Op ʼn vraag van regter Shyam Gyanda oor wat na die moorde sou gebeur, het Lotter gesê Naidoo sou al die geld erf, aangesien hy “die seun van God is en dit God se wil was”. Sy sou ook met Naidoo trou. Hy sou ook ʼn tweede vrou gehad het, aangesien dit ook “God se wil was”. Lotter sê sy besef nou dat Naidoo haar manipuleer het en dat hy vir haar en Hardus dinge oor hulle ouers vertel het sodat hulle van hulle vervreemd sou raak. Lotter sê sy het alles geglo wat Naidoo vir haar gesê het aangesien dit “van God gekom het”. Sy sê hoewel sy lief was vir haar ouers, het “God haar beveel om hulle dood te maak”. “Die noodlot het dit bepaal … dit kom van God … Ek moes daarby bly,” het sy gesê. Nicolette onthou dat haar broer ‘n onwillige party was, maar deur Naidoo gemanipuleer en geslaan is. Naidoo het glo ook aan hom gesê hy sal nooit ‘n man wees as hy nie sy pa doodmaak nie. Sy sê haar broer is nie ‘n moordenaar nie. Sy het erken sy was deels verantwoordelik vir sy verknorsing. Sy het ingestem met die regter dat as haar broer aan sy eie lot oorgelaat is, hy nooit betrokke sou raak nie. Op ʼn vraag aan Lotter oor waarom sy Maandag tydens haar getuienis geen emosie gewys het nie, het sy geantwoord dat sy in die tronk geleer het om haar emosies op te krop.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.