‘Lotz het waarskynlik moordenaar geken’

Inge Lotz

Die baasspeurder oudbrig. Piet Byleveld sê die Matie-student Inge Lotz is waarskynlik deur iemand wat sy geken het vermoor.

IOL berig dat Byleveld Maandagaand Kaapstad verlaat het nadat hy vyf dae daar spandeer het om nuwe leidrade te soek en saam met Lotz se ma, Juanita, die woonstel besoek het waar sy op 16 Maart 2005 vermoor is. Byleveld is deur die Lotz-egpaar gehuur om die moord op hul dogter te ondersoek. “Ek het onderhoude met verskeie individue gevoer en het nou ʼn baie duideliker prentjie oor die slagoffer en wat gebeur het die dag van haar moord.” Byleveld sê dit is ʼn baie ingewikkelde saak maar dat dit wel opgelos kan word. “Inge Lotz was ʼn uitmuntende student en ʼn begaafde musikant, sy het ʼn briljante verstand en die wêreld aan haar voete gehad toe sy vermoor is. Ek dink dit is billik om te sê dat die pragtige jong vrou vermoor is deur iemand wat sy geken het, ʼn betroubare vriend. Meer as dit kan ek nie in die stadium sê nie.” Lotz se pa, prof Jan Lotz, se pa het verlede maand ʼn beloning van R1 miljoen uitgeloof in ʼn poging om sy dogter se moordenaar op te spoor. “Piet is absoluut die regte man vir die werk, daar is niemand beter in Suid-Afrika nie, en hy sal my dogter se moordenaar vind, daarin het ek geen twyfel nie.” Lotz se voormalige kêrel, Fred van der Vyver, is kort na haar moord in hegtenis geneem en aangekla. Hy is in November 2007 vrygespreek. Enigiemand met inligting kan die Bloemfonteinse prokureur, Johan Jordaan, kontak by 082 338 5318.

Lees meer hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.