Louise de Waal-moordverdagte Maandag in hof

Die man wat Louise de Waal na bewering ontvoer en vermoor het verskyn Maandag in die Krugersdorp-streekhof.

Die 16-jarige De Waal is Woensdagoggend in Roodepoort op pad skool toe ontvoer. ʼn Verkoolde lyk is later die middag op ʼn verlate plaas in Magaliesburg gevind. Die polisie vermoed dit is De Waal se lyk. ʼn 35-jarige man het homself Donderdagoggend by die Margate-polisiestasie oorgegee. Volgens berigte het die verdagte Vrydag ʼn bekentenis oor De Waal se ontvoering, verkragting en moord voor ʼn landdros in Krugersdorp afgelê. Daar word ook berig dat De Waal se familie nie Maandag se hofverskyning sal bywoon nie. De Waal is vermoor kort voor haar 17de verjaarsdag wat Sondag sou gevier word. Volgens mediaberigte is De Waal se vermeende moordenaar getroud en het hy ʼn 6-jarige seuntjie.

Die polisie het intussen die naweek gesê dat hulle moontlik Maandag tydens die verdagte se hofverskyning sal kan bekendmaak of hy ook die sogenaamde “Sondag-verkragter” is. Die “Sondag-verkragter” word gesoek in verband met minstens nege sake verkragting en een van moord. Die “Sondag-verkragter” het verlede jaar na bewering twee skoolmeisies in Pretoria-Wes ontvoer. Die een meisie het glo uit die ontvoerder se bakkie gespring en is dood. Die ander meisie is verkrag. Die “Sondag-verkragter” word verbind met verkragtings in Vanderbijlpark, Krugersdorp, Potchefstroom, Pretoria en Rustenburg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.