Lugredery diskrimineer glo steeds teen wittes

Die vakbond Solidariteit het Dinsdag die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) versoek om redes te verskaf oor hoekom twee wit persone se aansoeke vir sy kadetprogram binne minute nadat dit ingedien is, afgekeur is.

Dit volg ná die vakbond voorverlede week ʼn openbare veldtog teen die SAL van stapel gestuur het nadat dit aan die lig gekom het dat wit aansoekers se aansoeke vir die kadetprogram op die lugredery se webblad onmiddellik geweier is, terwyl swart aansoekers met dieselfde profiel se aansoeke aanvaar is. Die SAL het kort daarna in ʼn prokureursbrief bekendgemaak dat hy sy verbod op aansoeke van wit manlike studente vir sy kadetprogram gaan ophef.

Johan Kruger, woordvoerder van Solidariteit, het gesê die vakbond tree in hierdie geval namens Clarice Berteyn en Bradley Lane op. Berteyn en Lane het ná die lugredery se prokureursbrief uitgestuur is, aansoek gedoen.

“Hulle het die nodige dokumente, insluitend ʼn werksopdrag, ingedien, maar is etlike minute later in kennis gestel dat hulle aansoeke afgekeur is. Albei voldoen aan die vereistes en as ʼn vrou is Berteyn deel van die aangewese groep. Sy en Lane beskik ook reeds oor private vlieglisensies. Solidariteit het die SAL versoek om skriftelik redes te verskaf oor hoekom hulle aansoeke afgekeur is. Ons het die lugredery ook gevra om die inhoud van suksesvolle kandidate se aansoeke aan ons beskikbaar te maak,” het Kruger gesê.

Solidariteit het die SAL versoek om alle inligting rakende aansoeke wat ontvang en goedgekeur is bekend te maak met spesifieke verwysing na ras en geslag.

Kruger het gesê Solidariteit het die afgelope ruk talle navrae ontvang van mense wat steeds sukkel om aanlyn vir die SAL se kadetprogram aansoek te doen. Die vakbond het die lugredery ook versoek om ʼn persoon aan te wys om navrae rakende die lugredery se kadetprogram en enige klagtes rakende die aanlyn aansoeke te hanteer.

Solidariteit doen ʼn beroep op wit aansoekers wat aan die vereistes voldoen om die vakbond in kennis te stel indien hulle steeds nie vir die kadetprogram kan aansoek doen nie óf as daar verder tydens die keuringstydperk teen hulle gediskrimineer word. Dit kan gedoen word by www.stopkwotas.co.za.

Maroela Media het die SAL om kommentaar genader en wag vir terugvoer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.