LUR gebruik glo noodhelikopter om begrafnis by te woon

Dr. Sibongiseni Dhlomo

Sibongiseni Dhlomo, die LUR vir gesondheid in KwaZulu-Natal het glo ‘n nooddienshelikopter ontbied om ‘n begrafnis by te woon.

Die Sunday Tribune het berig dat hy die helikopter gebruik het om Zacharia “Cliff” Zungu se begrafnis by te woon. Zungu, ‘n sakeman, is Dawn Zungu, bestuurder van die Hlabisa provinsiale hospitaal, se eggenoot.

Dhlomo is vroeër gekritiseer toe hy die provinsie se enigste mediese helikopter drie weke gelede ook gebruik het omdat dit ‘n beseerde tiener se vervoer na ‘n Durbanse hospitaal vertraag het. Asheen Maharaj (15) is breindood gelaat ná ‘n motorongeluk naby Pinetown. Sy ouers, Ashnee en Ashwin, en sy suster Asheena is in die ongeluk dood.

Die koerant het vroeër die maand berig dat paramedici, wat Maharaj behandel het, die helikopter benodig het om hom na die Albert Luthuli-hospitaal in Durban te neem, maar is aangesê dat die helikopter nie beskikbaar is nie, aangesien Dhlomo dit in daardie stadium benodig het.

Maharaj is by die hospitaal dood verklaar nadat hulle hom met ‘n ambulans moes vervoer.

Die departement van gesondheid in KwaZulu-Natal, het gesê Dhlomo moes na Hlabisa toe gaan, aangesien die gemeenskap ontstoke was oor ‘n dokter van die provinsiale hospitaal in Hlabisa en dat hulle glo die dokter met die dood gedreig het.

Die koerant het Sondag berig ‘n aantal mense, insluitend die pastoor, het bevestig dat Dhlomo met ‘n helikopter by Zungu se begrafnis opgedaag het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

SANETTE HENNING ·

Nou kjla die man aan van moord hy was mos nie in mediese nood nie!!!!!!! Geen regdenkende mens wat weet wat die doel is van nood helikopter vir mediese gevalle sal dit misbruik nie Genade eers was dit ambulanse wat vir taxis gebruik word nou nood helikopter waar gaan als eindig !!!!!!!!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.