LUR glo by padwoedevoorval betrokke

Masango op die toneel. Foto: Beeld

Siphosezwe Masango, LUR vir huisvesting in Mpumalanga, het Donderdag glo toegekyk hoe sy lyfwagte ʼn motoris by ʼn tolhek aanrand.

Die 38-jarige Gert van der Merwe is tydens die voorval beseer en met pepersproei gespuit, berig Beeld. Masango het Van der Merwe glo ook in ’n stadium rondgeruk.

Volgens Van Der Merwe het Masango se wit Mercedes met flitsende blou ligte ʼn paar kilometer van die Nkomazi-tolhek oor ʼn sperstreep verby ʼn string voertuie in die aankomende verkeer se baan gejaag. Die voorval het omstreeks 09:40 op die N4-tolpad by Kaapmuiden plaasgevind.

Van Der Merwe het by die tolhek agter Masango se motor stilgehou.

“Ek het by die venster uitgeleun en op hom geskree dat hy roekeloos is en ander motoriste se lewe in gevaar stel. Hy het toe iets vir my teruggeskree,” het Van Der Merwe gesê.

Masango en twee mans het uit die voertuig geklim en Van Der Merwe het hulle tegemoet geloop, waarna ʼn woordewisseling ontstaan het. Masango het glo langs Van Der Merwe gestaan toe hy met ’n onbekende voorwerp teen die linkerkant van sy kop geslaan is en met pepersproei in die gesig gespuit is.

Hy kon daarin slaag om van die mans weg te kom en het na die Kaapmuiden-polisiekantoor, omtrent 400 meter van die tolhek af, gehardloop.

Intussen het ’n verkeersbeampte, wat in een van die begeleidingsvoertuie was, Masango van die toneel af weggelei.

Van der Merwe het ’n klag van aanranding by die polisie ingedien. Hy het ook mediese behandeling gekry. Die polisie op Kaapmuiden het bevestig hulle ondersoek die saak.

Masango het nog nie oor die voorval kommentaar gelewer nie.

Lees meer hier

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

SANETTE HENNING ·

ja nee as hul in die blouligvoertuie ry mag hul maak wat hul wil en is ander mense se veiligheid nie van belang, soos ons gesien het met jong seun se ongeluk in RFandfontein. Mnr van der Merwe hoop jy wen saak Kontak Anton Maritz In ERMELO n baie goeie prokureer met sulke sake.

Blouligbrigade die wet is nie net vir publiek maar ook vir lede van ANC regering anders sal wet moet herskryf word talle van ons het klagtes oor jul padverbruik.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.